TUINROETE NUUS - Charlie, vandag wil ek praat oor vis. Dit was 'n belangrike bron van kos.
Vis en viskoppe net soos skaap- en beeskoppe en afval was alledaagse verskynsels op die tafel. Dit het nou 'n statuskos geword.
Die Strydom-broers het my vertel dat hulle pa lief was vir afval, maar hulle ouma moes dit vir hom kom kook wanneer sy die slag uit die Transvaal kom kuier het.
Ma en kinders het dan gewoonlik dan maar by die see gaan kuier om van die kenmerkende afvalreuk af weg te te kom.
Viskoppe het nie so 'n reuk gehad nie. Irvin en Johnson en Groenewald (so genoem omdat feitlik al die Groenewalds het daar gewerk), het soggens die viskoppe op die see uitgegooi. Daar was toe nog nie 'n mark daarvoor nie.
Ons kinders moes daarvan gaan versamel. Groot koppe, beenbekkoppe, kabeljoukoppe, somtyds selfs tunakoppe. Tuna was nou 'n besondere meevallertjie. As ek nou so daaroor nadink dan was dit eintlik koningskos. Maar toe, was dit armmanskos, waaroor ons nie eintlik gepraat het nie.
In die standard 3-klas vra ons meester Piet du Preez ons toe wie van ons almal viskopkos eet. Geen hand wat opgesteek word nie, al is ons is almal kopeters in die klas.
Maar ons is te skaam om dit te erken. Later het die handjies skamerig tot so voor die bors gevorder. En toe kom die aankondiging mos: visbrein is goed vir menslike breinontwikkeling.
Hierna was dit baie makliker om die eet van viskoppe te erken en daarmee saam te leef.
En vis eet, het ons vis geëet. Geelbek is in repe gesny en opgehang vir droogword. Die olie het dan daaruit getap. Dit kon dan weke later as 'n smoor geëet word.
Die vistreiler se manne het ook winddroë barbers, kaapse nooientjie, galjoen, rooiroman, ag man, 'n hele rykdom van soorte gebring wat dan rojaal aan familie, vriende en bure uitgedeel is.
Ons het 'n wonderlike gees van mededeelsaamheid gehad.
Ons hengelaars self het groot visse gevang en dis nou nie die tipiese "visvangstorie" nie. Daar is foto's van onder andere oom Ben Groenewald waar hy langs 'n boerkabeljou staan wat amper so lank soos hyself is.
Oom Joey Constance kon vir jou die vis huis toe bring wat hy gesê het hy gaan bring. Hy kon ook vir jou sê watter soort vis aan die hoek was sonder dat jy nog die vis gesien het.
As kind, was dit wonderlik om na hom te luister as hy vertel het van hoe 'n beenbek of mosselkraker aan die hoek woes kon spook.
Boet Sam Deal kon ook menige elwe vang. Sy swaer, Baas Muller het per geleentheid gesê dat hy nie vis gaan vang nie, hy gaan maak hulle net los,want hulle is vir hom in die see vasgemaak.
* Selwyn Hermanus is 'n afgetrede Afrikaans-onderwyser.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'