Willem Oudshoorn het onlangs die George Herald gekontak na Rameez Norris van Ocean Fresh glo geprosesseerde vis as kreefstert aan hom verkwansel het. Die vissmous verkoop sy voorraad uit vrieskaste wat agterop 'n wit Toyota Hilux enkelkajuitbakkie is. Oudshoorn het 'n internetsoektog na die maatskappy begin, maar kon niks kry nie.
"Die logo op die bakkie se deur is 'Ocean Fresh - Fish and Sea Food'. Ek het in die geelbladsye en op die internet gaan soek vir die maatskappy om te kyk of dit 'n geregistreerde besigheid is. Die naaste wat ek daaraan kon kry is 'Oceanfresh Seafood' wat in Kaapstad is en hulle het nie dieselfde logo as die bakkie waaruit hierdie vis-smouse werk nie. Dit laat my wonder of die smouse die regte permitte het om al die tipes vis te verkoop wat hulle so gretig aan 'n mens wil afsmeer."
Volgens Oudshoorn 'werk' hulle gewoonlik in parkeerareas van winkels en besighede. "Hulle keer jou voor soos jy op pad is na jou kar. Daar is gewoonlik vier mans by die bakkie en die ouerige, kort, man is die een wat meeste van die praatwerk doen. Die mans belowe vars vis en enige tipe vis wat enigeen se behoeftes sal bevredig, tot kreefstert."
Hy sê hier is die eintlike skelmstreek.
"Die 'kreefsterte' is individueel in klein oondsakkies verseël en is klaar skoongemaak vir jou gerief om net gaar te maak en te geniet. 'n Boks van die 'sterte' sal jou so tussen R300 en R400 uit die sak jaag afhangende van hoe die onderhandelinge verloop het. Die kreefstert is toe al die tyd gekompakteerde vis (nie eers seker watter tipe vis nie) wat nie eers die helfte van dit wat jy betaal het werd is nie. Dit is bedrog."
Oudshoorn het darem sy geld te-ruggekry toe 'n vriend die mans weer gesien het en Oudshoorn saam met die polisie hom na die toneel gehaas het. "Ek wil die mense van George inlig oor die bedrieërs sodat ons ons plaaslike besighede kan ondersteun en nie oneerlike smouse en skelms die kans gee om besigheid te doen en hulself te vestig in ons area nie. Die vis wat jy koop uit daai vrieskaste kan oud wees, al hoeveel keer ontdooi het en waarskynlik nie eers die vis wees wat "geadverteer" word nie. Verder kan hulle vis verkoop wat dalk bedreig is."
Oudshoorn sê 'n vriendin het na die voorval dieselfde logo op 'n groen bakkie gesien.
Outeniquastrand
Ronel Gerber van Outeniquastrand is glo verlede Vrydagmiddag deur dieselfde mans ingeloop. Sy het twee bokse vis gekoop. "Een boks was veronderstel om koningklip te wees en die ander een kabeljou. Ek het altesaam R560 daarvoor betaal. Oor die naweek het vriende my ingelig dat die vis, haai is. Ek het dit vanoggend (Dinsdag) na 'n bekende vismark in Mosselbaai geneem wat wel bevestig het dat dit haai is. Hulle is ook bewus van hierdie bakkie wat die mense so uitvang!
Die polisie het by navraag gesê hulle is nie bewus van enige klagtes wat teen die vissmouse gelê is nie.
Die George Herald het die visverkopers gebel, maar die persoon wat geantwoord het en gesê het hy is Rameez Norris "van die Kaap", het die foon neergesit toe George Herald 'n ontmoeting wou reël.

Die besigheidskaartjie wat die visverkopers uitdeel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'