GEORGE NUUS - Ofskoon die George-munisipaliteit nie vanjaar aansoek gedoen het vir blouvlagstatus by strande onder sy beheer nie, is dit nie onmoontlik dat hy dit in die toekoms kan doen nie.
Die blouvlagstrande vir 2020/21 is onlangs aangekondig deur die Wildlife and Environment Society of South Africa (Wessa) en vrae het ontstaan oor waarom strande in George weer nie blouvlagstatus ontvang het nie.
Verskeie strande van ander munisipaliteite in die Tuinroete het wel dié status.
Leon van Wyk, George-burgemeester, het Dinsdag gesê as gevolg van Covid-19, is vanjaar besluit om nie voort te gaan met 'n aansoek nie. Die aansoek word gewoonlik maande voor die tyd gereed gekry en toe dit moes plaasvind, was dit nog nie duidelik hoe dinge met betrekking tot Covid-19 sou verloop nie.
Hy het benadruk dat dit kostes behels - vir die aansoek self en daarna die toepassing van die reëls as dit toegestaan word.
Met die onsekerheid van Covid-19 is besluit dat prioriteite op ander plekke moes wees. Daar is mense wat sukkel. Die munisipaliteit help en bedryf byvoorbeeld 137 sopkombuise. Dit kos geld om die sopkombuise aan die gang te hou.
Volgens Van Wyk moet die besluit om nie 'n aansoek in te dien nie ook gesien word teen die agtergrond van die kostebesnoeiings wat in die munisipaliteit aan die gang is.
Die moontlikheid van aansoek vir blouvlagstatus is al in die verlede ook bespreek. George is pro-toerisme en wil dit graag bevorder.
Die munisipaliteit sal in die toekoms weer daarna kyk.
Van Wyk het mense gemaan om te alle tye versigtig te wees as hulle strande besoek. "Watter strand jy ook al besoek, kyk na jou eie veiligheid."
Hy het lof gehad vir die NSRI wat baie doen met publisiteit vir veiligheid op strande en dit self ook bevorder. Hul riglyne moet gevolg word.
Leon van Wyk, George se burgemeester
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'