GEORGE NUUS - 'n Dapper reddingspoging by Heroldsbaai op Woensdag 25 September het 'n tragedie voorkom toe Rigert Beukes (22), bestuurder van Vibe Surf School, sonder huiwering die gevaarlike branders ingeswem het om 'n jong meisie se lewe te red.
Terwyl Beukes besig was om sy toerusting uit sy kar te laai vir 'n ontspannende dag op die strand, het hy 'n meisie opgemerk wat in die linkerstroom, berug vir sy krag en nabyheid aan die rotse, vasgevang was.
Hy verduidelik by Heroldsbaai is daar twee strome.
Die sterkste een wat altyd trek is heel links, reg langs die rotse, en die branderplankryers gebruik die een om dieper in te gaan en agter die branders te kom.
"Ek het gesien hoe sy sukkel en geweet daar is geen tyd om te mors nie," sê Beukes, wat dadelik tot aksie oorgegaan het.
Hy skat dat die meisie, wat vermoedelik van Kaapstad is en saam met 'n familielid by die strand was, jonger as 10 jaar oud is.
"Toe ek sien iemand is in die stroom vasgevang was my natuurlike reaksie om dadelik my paddavoete te gryp en haar te gaan red. Ek het nie eers twee keer daaroor gedink nie, dit het net van nature gekom, omdat ek dit al 'n paar keer moes doen," sê Beukes.
Hy het tevore lewensreddingopleiding ontvang en het van 16 jaar tot vanjaar by Heroldsbaai as 'n lewensredder gewerk.
Beukes het afgehardloop strand toe en dadelik ingespring en na haar begin swem.
"Dit is 'n ent se hardloop om tot by die stroom te kom en ek het seker so 20 m geswem om haar te bereik. Toe ek by haar kom was ek lekker uitasem, maar ek het vir haar gesê ons gaan uit die stroom swem en sy moet net op haar bord bly en help skop," vertel Beukes. Hy het haar van agter help stoot en saam geskop.
"Wees rustig, bly kalm, ons gaan okay wees," het hy vir haar gesê.
Beukes vertel dat alhoewel Heroldsbaai bekend is vir 'n rowwe see met sterk strome was dit op hierdie dag erger as gewoonlik.
"Dit was 'n stryd om haar uit die water te kry. Die stroom was baie sterk, maar ons het 90 grade met die stroom geswem en kon toe uitkom," sê hy.
Op pad uit het 'n inwoner van Heroldsbaai, Dale Irvine, ook gaan help. Beukes vertel nog 'n person wou help, maar het nie paddavoete gehad nie.
"Dit help nie as mens sonder paddavoete probeer nie en ook nie sonder 'n drywende toestel soos 'n reddingsboei nie. Die persoon kan jou dalk gryp en dan is julle al twee in die moeilikheid," sê Beukes.
Die meisie het 'n paar skrape aan haar been gehad en was redelik geskok, maar het geen mediese behandeling nodig gehad nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’