Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die see by Victoriabaai, een van die gewildste strande onder swemmers en branderplankryers, kry blykbaar van tyd tot tyd 'n dosis riool.
Ná 'n besige naweek, soos die afgelope een, begin riool oorloop uit 'n pompstasie langs Seabreeze Holiday Cabanas, en dan kabbel dit al af in die pad tot in die see.
"Elke naweek is die strand vol mense, wat die lading op die pompstasie verhoog. Alles word boontoe gepomp. Vir ses jaar kla ons oor die riool wat eers oorloop voordat die munisipaliteit dit kom uitsuig. 'n Paar jaar gelede het hulle 'n telemetriese waarskuwingstelsel geïnstalleer, maar ek dink dié werk die afgelope twee jaar nie meer nie," sê Ampie Vorster van Seabreeze.
Die riool loop reg voor Seabreeze se ingangshek verby waar gaste in en uit ry. 'n Entjie voor die winkel onder by die strand, vloei dit in die stormwaterpyp wat op die strand uitmond. Maandag was die soveelste keer dat Vorster moes kla voordat 'n trok die riool kom uitsuig het. Die munisipaliteit is om kommentaar genader, maar teen saktyd is nog geen reaksie ontvang nie.
Hierdie is 'n herhalende probleem waaroor die George Herald voorheen berig gedoen het.
Kyk 'n video hieronder.
Die riool vloei tot in 'n stormwaterpyp wat op die strand uitspoel. Foto: verskaf
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'