Update
GEORGE NUUS - Sy was 'n sonstraal-meisiekind en een van die sterkste jong dames wat sy al ontmoet het. Só sê Lucinda Orie ná haar neef se dogter, Allishandre Floors (16), tydens die Desembervakansie vermoor is.
Floors, 'n leerder van Hoërskool George wat sedert Junie 2019 saam met haar tannie hier bly, het by familie in Stormsrivier gaan kuier toe sy vermoor is. Sy het op 22 Desember haar ouerhuis in Sanddrift saam met 'n familielid verlaat, maar nooit teruggekeer nie.
Haar ma het haar die volgende dag as vermis aangemeld.
Dieselfde familielid waarmee sy die huis verlaat het, het Vrydag 27 Desember glo aan die polisie erken dat hy haar vermoor het en hulle gewys waar haar lyk was.
Die verdagte (41) is in die St. Albans-korrektiewe sentrum in die Oos-Kaap in aanhouding. Hy verskyn weer op 14 Januarie vir sy borgtogaansoek.
'Shandre' word onthou
"In die kort rukkie wat sy in ons huis gebly het was sy soos 'n vars briesie. Sy het soveel teleurstelling en hartseer in haar lewe ervaar, maar steeds die lewe met 'n lied aangepak. Selfs onder baie moeilike omstandighede was sy veerkragtig. Sy wou 'n beter mens word," sê Orie.
Vir haar klasonderwyser, Robert Deyce, was dit haar selfvertroue en volwassenheid wat uitgestaan het.
"Sy was goed gemanierd en dít het haar onderskei van baie ander kinders. Sy was saggesproke en het haar vriende goed gekies. Sy wou vanjaar by die biblioteekkomitee aansluit.
"Sy was altyd voor in die ry en het 'n goeie verhouding met al haar onderwysers gehad. In die kort tyd by ons het sy in almal met wie sy te doen gehad het, se harte ingekruip. As persoon, kind en leerder kon ons nie fout met haar vind nie."
Lees 'n vorige arikel: Skool betreur leerder se moord
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'