Natalie is Saterdagaand 18:00 laas lewend gesien, maar is eers vanoggend kort na 11:00 deur haar ma as vermis aangemeld. Die polisie het onmiddellik ‘n soekspan uitgestuur waarna haar liggaam 10 minute later deur ‘n lid van die Pacaltsdorp-polisie gevind is.
Forensiese deskundiges, lede van die honde-eenheid en speurders is reeds sedert 12:00 op die toneel. Generaal-majoor Oswald Reddy het ook die toneel besoek.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder sê hulle het ‘n moorddossier vir verdere ondersoek geopen. Die ondersoekbeampte, ao. William van Schalkwyk word bygestaan deur ondersoekers van die gesinsgeweld kinderbeskerming en seksuele misdrywe-eenheid.
Pojie het ook bevestig dat hulle die moontlikheid ondersoek dat Natalie verkrag is.
Op ‘n vraag oor hoekom die ouers so lank gewag het om haar as vermis aan te meld aangesien sy al sedert Saterdag vermis word, het Pojie gesê, “na gelang van die ondersoek sal die polisie vasstel of die ouers nalatig was”.
Enigiemand met inligting oor die moord word versoek om ao. Van Schalkwyk te skakel by 044 803 9130.

