GEORGE NUUS - Sosiale media is 'n wonderlike ding, maar dit kan ook onnodige drama veroorsaak en die tonge laat klap.
Só sê Johann van Wyk ná sy ma, Caren Odendal, wat met Covid-19 gediagnoseer is, oor die naweek op 'n vreemde manier vermis geraak het.
"Op Vrydag 18 Desember het ons op ons familie se WhatsApp-groep nuus van my ma ontvang dat sy by George-hospitaal opgeneem is. Teen 16:13 het sy ons weer gekontak en gesê die ambulans vat haar na 'n Covid-rehabilitasiesentrum toe. Daarna het ons geen verdere kontak met haar gehad nie hoewel ons verskeie kere probeer bel en WhatsApps gestuur het," vertel Van Wyk.
Odendal se familie het dadelik na haar begin soek en haar by die polisie as vermis aangemeld.
"Ons het al die Covid-19-fasiliteite in die omgewing gebel en was kort-kort in kontak met die hospitaal. In daardie stadium het ons niks op sosiale media geplaas nie. Dit was ook nie ons plan nie. Die hospitaal het gesê hulle dra geen kennis van haar vervoer nie, maar dat hulle haar wel na 'n Covid-19-behandelingsentrum verwys het," sê Van Wyk.
Intussen is 'n plasing oor Odendal se vreemde verdwyning op Facebook gemaak en dit het soos 'n veldbrand versprei. Talle lesers het antwoorde by die hospitaal en ambulansdiens gesoek.
"Ons weet nie wie die eerste plasing gemaak het nie, maar dit was nie 'n familielid nie en ons het eintlik nie toestemming daarvoor gegee nie. Dis nie dat ons ondankbaar is nie, maar dit het soms die soektog moeilik gemaak," sê Van Wyk.
Nadia Ferreira, kommunikasiebeampte vir die Wes-Kaapse department van gesondheid vir die Tuinroete en Sentraal Karoo-distrikte, sê dat Odendal reeds Vrydag uit George-hospitaal ontslaan is.
"Volgens ons rekords het sy geen van ons ander dienste, insluitend isolasie- en kwarantyn-fasiliteite, gesondheis-vervoer of ambulansdienste, gebruik nie. Ons is bly om te hoor dat die pasiënt gevind is," sê Ferreira.
Volgens Van Wyk het hulle hul ma Sondagoggend, 20 Desember, by die George-hospitaal opgespoor waar dokters besig was om haar te behandel.
"Sy was baie deurmekaar, maar sy is nie weer opgeneem nie," sê hy.
"Toe ons daar kom was sy besig om behandeling te ontvang. Ons weet nie waar sy sedert Vrydag was nie en ons het nog nie met haar daaroor gepraat nie. Ons fokus is nou op haar welstand en herstel. Ons verkwalik nie die hospitaal óf die ambulansdiens nie. Hulle het nie enige skuld aan haar verdwyning nie. Ons sal wel agter die kap van die byl kom, maar ons beskou dit as 'n privaat familie-aangeleentheid. Ons is nie ondankbaar teenoor die mense wat help soek het nie, maar daar is niks verder om by te voeg nie. Ons vra ook dat ongegronde aantygings en kommentare vermy word."
Odendal sterk tans by haar eie woning aan waar sy in selfisolasie geplaas is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'