GEORGE NUUS - Die verkragter wat verlede jaar met sy slagoffer se onderklere nog in sy besit in hegtenis geneem is, gaan 'n lang tyd agter tralies bly.
Andile Majuba (33) is op 30 Oktober in die George-streekhof tot 30 jaar tronkstraf vir verkragting en roof opgelê, met van die vonnisse wat samelopend uitgedien word.
Die klagtes teen hom was, verkragting (15 jaar), roof met verswarende omstandighede (15 jaar), diefstal (ses maande), betreding en huisbraak met opset om te steel (opgeskorte vonnis van drie jaar op elk van die klagtes).
Die voorval het in Januarie 2016 by die slagoffer se huis in Victoriastraat, George-Suid plaasgevind. Hy is kort daarna deur lede van George-polisie se sigbare polisiëringseenheid in hegtenis geneem.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het gesê, Majuba sal vir minstens 20 jaar in aanhouding bly voor hy vir parool oorweeg sal word.
Volgens Pojie het die beskuldigde oor die muur van die kompleks waar die slagoffer gewoon het geklim en die huis binnegegaan. "Hy het by die agterdeur, wat vir die hond oop was, ingekom.
"Die slagoffer het hom uit haar slaapkamer gesien. Toe sy die kamer probeer verlaat, het hy die deur toegemaak, haar op die bed gegooi en herhaaldelik verkrag.
"Na die voorval het Majuba die slagoffer vir geld en kos gevra. Hy het haar DVD-speler, kos en koeldrank gevat en te voet van die toneel gevlug," het Pojie gesê.
Terwyl die slagoffer 'n verklaring aan die polisie gegee het, het patrollielede die taxistaanplek in Cradockstraat deursoek.
Dáár het 'n ooggetuie vir hulle gesê hy het 'n man, wat met die beskrywing van die slagoffer ooreenstem, in 'n taxi na Thembalethu sien klim.
Majuba is kort daarna met die gesteelde items, en die slagoffer se onderklere nog in sy sak, in hegtenis geneem.
Hy is skuldig bevind deur streeklanddros Marius Fourie en gevonnis vir verkragting, diefstal, oortreding, huisbraak en roof met verswarende omstandighede.
Reinet de Waal het vir die staat verskyn.
Generaal majoor Oswald Reddy het die ondersoekspan en diegene wat betrokke was by die uitstekende vonnis, geprys. Hy het gesê dat hiérdie vonnis hopelik potensiële verkragters sal afskrik.
"Sulke gruweldade sal nooit geduld word nie en sal voor die voet uitgeroei word."
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'