Update
GEORGE NUUS - Die verdagtes wat in Desember 2017 vir die moord op Gershwin Verlaat (22) aangekeer is, het gister, 17 Januarie in die hof verskyn waar hul saak tot 13 Februarie uitgestel is vir 'n formele borgtogaansoek.
Hulle het verlede week ook verskyn, maar almal se regsverteenwoordigers was nie teenwoordig nie.
Verlaat se liggaam is met ernstige kopwonde, ná 'n beweerde wraakaanval, Saterdagoggend 2 Desember omstreeks 07:30 in Genesisstraat in Rosedale gevind.
Die verdagtes, Charldon Heynes (20), Kesharne Mostert (21), Marlen Willeman (19) en Brenton Pato (27) bly in aanhouding.
Weens die beserings wat Pato die aand van die voorval opgedoen het, word hy in die hospitaaleenheid van die gevangenis aangehou.
Hy is blykbaar met 'n panga raakgekap tydens die wraakaanval op sy broer, Johnwin, wat die vorige aand, Vrydag 1 Desember, naby sy huis doodgesteek is.
Brenton is die Sondagaand na die voorval waarin Verlaat gesterf het, met 'n ernstige kopbesering na die Groote Schuur-hospitaal gevlieg. Hy is kort daarna weer na George-hospitaal oorgeplaas en op Dinsdag 12 Desember ontslaan.
Hy is op Donderdag 4 Januarie by sy huis in hegtenis geneem.
Rowandro Ruiters (27), die verdagte wat aangekeer is vir Johnwin se moord, is op 29 Desember borgtog van R500 toegestaan.
Hy verskyn weer op 7 Februarie in die George-landdroshof.
Geen ander verdagtes is tot dusver vir dié moord in hegtenis geneem nie.
Brenton Pato in die George-hospitaal die dag toe hy ontslaan is. Hy is na bewering baie stief behandel deur die polisiebeamptes en die dokter wat hom die aand van die aanval behandel het. Foto: Kristy Kolberg
Graham Fielies-moord
Die vyf verdagtes wat van die moord op Graham Fielies (37) van New Dawn Park, in hegtenis geneem is, het Kersfees agter tralies deurgebring.
Die saak is Maandagoggend, 18 Desember in die George-landdroshof tot 5 Februarie uitgestel vir 'n formele borgtogaansoek.
Fielies is na bewering Vrydagmiddag, 1 Desember, omstreeks 14:00 deur 'n groep mans in 'n lokval gelei waarna hy aangerand is.
Hy het later die aand in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Die George Herald verneem die aanval op Fielies is vermoedelik bendeverwant.
Die moord is glo voorafgegaan deur 'n voorval waartydens een van die verdagtes se vinger met 'n panga afgekap is.
Daar is ook sprake dat Fielies en sy aanvallers oor gebiedsreg gestry het.
Al die verdagtes in die saak, Johannes Boesak (34), Hayworth Botha (33), Daniel Bruiners (43), Nertle Damons (32) en Adrian Jantjies (30) bly in aanhouding.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'