GEORGE NUUS - George-polisie het 'n groot deurbraak gemaak toe 'n taxibestuurder van Thembalethu, Khanyisa Shasha (21), Woensdagaand, 14 April, in Thembalethu vasgetrek is.
Daar word beweer dat Shasha verbind word met die onlangse vlaag gewapende rooftogte wat besigheidseienaars in en om George die afgelope tyd ondervind het.
Shasha, wat verskeie aanklagte van roof in die gesig staar, het Maandag 19 April in die plaaslike landdroshof verskyn. Die saak is tot Donderdag 29 April vir sy formele borgtogaansoek uitgestel. Hy bly in aanhouding.
Die arrestasie volg ná vier gewapende rooftogte, met 'n ooreenstemmende modus operandi, sedert Vrydag 9 April in die George-omgewing plaasgevind het. Besighede in Pacaltsdorp en Conville het ook deurgeloop en 'n vrou is voor haar huis in Cradockstraat beroof.
Dit wil voorkom of die verdagtes in al die voorvalle hul slagoffers met vuurwapens dreig waarna hulle geld, sigarette en elektroniese items buit en in 'n wit Toyota Quantum-minibus vlug.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is Shasha in hegtenis geneem toe speurders verbonde aan die George-polisie die verdagte taxi in die middedorp opgemerk en agtervolg het. Hy is kort daarna vasgetrek.
"Verdere ondersoek het die verdagte verbind met die sakerowe wat in George, Pacaltsdorp en Conville plaasgevind het. Daar is ook beslag gelê op die taxi wat na bewering tydens die rooftogte gebruik is," sê Spies.
In 'n onverwante voorval in Thembalethu, op dieselfde dag, is 'n 27-jarige verdagte op aanklag van die onwettige besit van ammunisie in hegtenis geneem.
Volgens Spies was lede van die Eden-groepsgebied se misdaadvoorkomingseenheid asook die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) oor die naweek na misdaadgeteisterde gebiede ontplooi toe hulle 'n wenk van 'n inwoner in Thembalethu ontvang het.
Die span het op 'n huis in Zone 5 toegesak waar hulle ammunisie van 'n 9 mm-rewolwer asook 'n nagemaakte vuurwapen, gevind het. Hierdie verdagte is op borgtog van R1 000 vrygelaat en gedagvaar om volgende maand in die hof te verskyn.
Die polisie het vandeesweek bevestig dat hoewel hulle die moontlikheid ondersoek het, kan dié verdagte in hierdie stadium nie met die onlangse sakerowe verbind word nie.
Vier verdagte mans is Donderdag 15 April in Beachweg, Pacaltsdorp, gestop en na die polisiestasie geneem vir ondervraging. Hulle is egter later vrygelaat omdat hulle aan geen kriminele aktiwiteite verbind kon word nie.
Vier vas in Beachweg
Op Donderdag 15 April is vier mans in Beachweg, Pacaltsdorp, vasgetrek en na die polisiestasie geneem vir ondervraging.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het 'n lid van die publiek die polisie gekontak rakende 'n verdagte voertuig waarna hulle verskillende eenhede na die gebied gestuur het om ondersoek in te stel.
"Die voertuig is later in Beachweg opgemerk, maar die bestuurder het weggejaag toe hy die polisie gewaar. Die voertuig is egter agtervolg en het kort daarna stilgehou. Die vier manlike insittendes is daarna vir ondervraging en profilering opgeneem," het Pojie gesê.
Pojie het egter Maandag bevestig dat die mans vrygelaat is en aan geen onlangse kriminele voorvalle verbind kon word nie.
Verwante arikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'