GEORGE NUUS - 'n Sakeman van hier het sy oog op 'n skoon omgewing vir George. Charl Marais van Precast Panel Products (PPP) is aan die stuur van 'n inisiatief by name van Keep George Clean, wat daarop gemik is om met die hulp van die gemeenskap, ons strate skoon te hou.
George-munisipaliteit en verskeie plaaslike besighede gee tans hul ondersteuning aan hierdie welkome inisiatief. Lede van die publiek, munisipale amptenare en personeel van PPP het Saterdagoggend, 29 Junie, in Davidson- en Cradockstraat gehelp om gemors op te tel en sypaadjies skoon te maak.
"Ons sal elke dan en wan so 'n uitreikaksie hou en hoop om meer inwoners hier te betrek," het Marais gesê.
"Oor die jare kan ek duidelik sien dinge is besig om te verander in die dorp, veral omdat al hoe meer mense hierheen trek.
Mense op straat gebruik ongelukkig openbare areas ook as badkamers, dit dra alles by tot 'n vuiler dorp. Om die dorp skoon te hou is nie net die munisipaliteit se verantwoordelikheid nie."
Raak betrokke
Vir Marais is die belangrike deel dat mense betrokke raak en nie net die rol van 'n verbruiker speel nie. "Dit is iets wat ons ons kinders moet leer. Raak betrokke, doen gemeenskapswerk."
Heelwat strate in die industriële area ontvang tans aandag van die Keep George Clean-span. Dit sluit die areas in van besighede wat gereeld bydraes maak tot die inisiatief. Marais benadruk die belang om met mense oor 'n skoon omgewing te praat, en hulle te konfronteer wanneer hulle hul skuldig maak aan onwettige rommelstrooi - veral in die nywerheidsgebied van die dorp.
Gino Potts (links) help permanent met die Keep George Clean-projek. Saam met hom is Karin Stoffels van die munisipale afdeling vir omgewingsake. Al die sakke is deur die munisipaliteit geskenk.
Arm maar skoon
"In my werksreise het ek die voorreg gehad om te sien hoe skoon Rwanda is, al is die land verskriklik arm. Dit is deel van hul kultuur om hul plek skoon en netjies te hou. 'n Mens maak skoon voor jou huis, voor jou besigheidsperseel. Dit is belangrik om hierdie kultuur van netheid te kweek," het Marais gesê.
Carter (12), Olivia (15) en Ashley Farrell maak gereed om strate skoon te maak. Carter en Olivia is albei leerders van Glenwood House, waar gemeenskapsdiens deel vorm van hul kurrikulum.Aan boord
Tans geniet die projek ondersteuning van Buco, Steel & Pipes, 123 Stor-It, Emergency Power Services en die Outeniqua Powervan, waarvan Marais die eienaar is. Twee werkers is voltyds aangestel om areas in die dorp en nywerheidsgebied skoon te hou, en word gefinansier deur donasies vanuit die sakegemeenskap.
"Ek ry deur die dorp en natuurlik is ek elke dag in die nywerheidsgebied. Ek het my oog op areas wat skoongemaak moet word," het Marais gesê. Sy wens is dat meer skole die roete moet volg van Glenwood House, wat gemeenskapsdiens as deel van hul kurrikulum aanbied. Dit is verpligtend om aan sekere gemeenskapsprojekte deel te neem.
Twee werkers is voltyds aangestel om areas in die dorp en nywerheidsgebied skoon te hou, en word gefinansier deur donasies vanuit die sakegemeenskap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’