GEORGE NUUS - Die veiligheid van kinders is opnuut in die kollig na beweringe dat kinders verlede week in twee afsonderlike voorvalle byna ontvoer is.
Een van die voorvalle het op 5 Desember naby die toilette van 'n plaaslike winkel-sentrum plaasgevind.
In Pacaltsdorp het die GPF-voorsitter, Charly Daman, 'n waarskuwing uitgereik oor verdagte voertuie, 'n wit trokkie en 'n Toyota Fortuner, wat in die area rondbeweeg. Hy het gesê die insittendes neem foto's van jong kinders en in sommige gevalle word die kinders selfs genader.
Die gerugte oor ontvoeringspogings het ouers en gemeenskapslede opnuut laat besin oor die gevare van kinderontvoering, veral met die skoolvakansie op hande.
In 'n voorval op 5 Desember, wys 'n video van 'n vrou waar sy saam met 'n kind in 'n badkamer by die winkelsentrum ingaan en minder as 30 sekondes later alleen met die beweerde slagoffer ('n ander kind) uitstap. Hoewel die omstandighede onduidelik bly en dit moontlik is dat die vrou bloot wou help, beklemtoon die voorval die noodsaaklikheid van waaksaamheid.
Sers. Chris Spies, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat die voorval by die polisie aangemeld is.
"'n Saak van ontvoering is geopen, maar geen arrestasies is nog gemaak nie. Die dossier sal aan die direkteur van openbare vervolging voorgelê word, wat dan sal besluit of iemand vervolg gaan word," het hy gesê.
George Herald het betroubaar verneem dat die slagoffer en haar ma saam na die badkamer is, maar dat sy voor haar ma uit haar toilethokkie gekom het.
"Die ander vrou en 'n dogter het, toe hulle die badkamer binnekom, die kind verward aangetref en die vrou het haar na die Wimpy geneem. Intussen het die ma ook uit haar hokkie gekom en kon nie haar dogter opspoor nie, maar het haar 'n rukkie daarna by Wimpy gekry," vertel 'n bron.
Kinderontvoering is 'n werklikheid wat families regoor die wêreld ontwrig. Die psigologiese impak op slagoffers en hul families is traumaties en blywend.
Ouers en versorgers kan proaktief wees deur kinders op te voed oor vreemdelinge, die belangrikheid van grense en hoe om hulp te vra in noodsituasies. Tegnieke soos veiligheidswoorde tussen kinders en ouers kan ook help.
Hoewel die omstandighede rondom die badkamervoorval in George nog ondersoek word, dien dit as 'n herinnering dat ons almal 'n rol speel in die beskerming van ons gemeenskap se kinders. Wees waaksaam, vra vrae, en moenie huiwer om verdagte gedrag aan te meld nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’