Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - By die maandelikse veiling van GWK by die Outeniqua-veilingskompleks gisteroggend, Donderdag 14 Oktober, was ongeveer 400 diere onder die hamer met talle kopers van ander streke van die Wes-Kaap om die ring.
Berrie Botha, eienaar van die veilingskompleks, het gesê hulle is tevrede met die gemiddelde pryse behaal en die aantal besoekende kopers van buite die Tuinroete. Die veiling was gemik op kommersiële telers. Kopers van so ver as die Weskus, Worcester en Robertson het dit bygewoon.
"Daar is op die oomblik 'n skaarste aan vleis en dit gaan duurder raak. Dit is positief vir veeboere en die landbou."
Botha is positief oor die bykans 40 veilings wat al by sy veilingskompleks gehou is. Sy gedagte daarmee was om 'n fasiliteit in die George-area te vestig waar verkopers 'n veilige plek kan hê om vee van die hand te sit en kopers weet hulle kan goeie gehalte kry.
"Ons verkopers is meestal plaaslik, hoofsaaklik van George, Mosselbaai, Knysna en Plettenbergbaai. Die veilings is 'n inspuiting vir die plaaslike ekonomie, want benewens hul vee-aankope, spandeer besoekers ook op verblyf en kos," sê Botha.
Veeveiling lok kopers na Tuinroete:
Volgende Vrydag, 22 Oktober, vind die Outeniqua-interrasveiling plaas waar topgehalte diere van die George-omgewing onder die hamer kom. Die aanbod sluit 20 bulle en 220 vroulike diere in.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'