GEORGE NUUS - Die Môreson ACVV Kinder- en Jeugsorgsentrum het verlede week 'n nuwe veeldoelige sentrum in gebruik geneem wat deur Form-Scaff George opgerig en geskenk is.
Heinrich Muller, Form-Scaff George se bestuurder, het gehoor van 'n mentorskapprogram wat deur Spence-Chapin, 'n Amerikaanse nie-winsgewende organisasie, by Môreson begin is en onmiddellik navraag gedoen oor hoe die onderneming 'n bydrae kon lewer.
Een van die funksies van die sentrum sal wees om 'n area te skep waar die hoërskoolkinders en hul mentors die skootrekenaars wat deur Spence-Chapin voorsien is, kan gebruik om te help met skoolwerk of om die kinders se denkrigtings aan te wakker vir toekomstige loopbaankeuses.
"Ek voel verder dat hierdie dan ook aan Môreson se kinders die nodige blootstelling sal gee soos wat meeste van vandag se kinders het.
"Die sentrum kan ook gebruik word vir groepterapie onder leiding van die maatskaplike werkers, 'n opleidingslokaal, of as 'n teater vir vermaak oor naweke of tydens skoolvakansies wanneer van die kinders nie na hul families kan gaan nie," het Muller gesê.
Angelique du Randt, Môreson se sentrumbestuurder, het gesê hulle is opreg dankbaar.
"Form-Scaff bly deurlopend ingestel op die behoeftes van die sentrum. Hierdie skenking voeg soveel waarde toe tot programme wat deur die sentrum geïmplementeer word en wat bydra tot die optimale ontwikkeling van die kinders."
Die voorsitter van Môreson se bestuursraad, Susan Pretorius, het die lint geknip en die sentrum amptelik in ontvangs geneem.
Die lint word geknip vir Môreson se nuwe veeldoelige sentrum wat Form-Scaff George geskenk en opgerig het. Van links staan Murray Gerber (voormalige Môreson-bestuurslid), Christo du Preez (Môreson se tesourier), Angelique du Randt (Môreson-sentrumbestuurder), Susan Pretorius (voorsitter van die Môreson-bestuursraad), Heinrich Muller (bestuurder van Form-Scaff), Jacky Petro (Form-Scaff) en Jayden Vlooh (Form-Scaff).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’