GEORGE NUUS - Die oud-Springbokvleuel Ashwin Willemse, het verlede week hier in George - 'n dorp wat hy goed uit sy kinderdae onthou - gekuier.
Willemse het openhartig met gr. 11- en 12-leerders van Pacaltsdorp Sekondêr oor sy lewenspad gesels asook die uitdagings wat hy moes oorkom. Hy het vertel hoe hy as kind saam met sy familie in 'n huurmotor na George gereis het.
"Dit het vir my gevoel ons reis oorsee, want dit het vir ewig gevat!" het hy in sy praatjie gesê.
Een van die motorbande het glo in die middel van die nag gebars.
"Ek het nooit gedink dat ek in my matriekjaar, in 1999, in George sou kom rugby speel nie. Daardie keer het ons in 'n luukse bus gery."
Hy het by sy ouma grootgeword en sê hy "kom nie van baie af nie". Die hunkering na 'n pa en rolmodel het hom sy hele lewe lank bygebly. "Ek het in 'n agterhokkie geslaap. Die meisies waarvan ek gehou het, het bo en onder in die pad gebly. Yskoue winters."
Pacaltsdorp Sekondêr se onderhoof, Anthony Delo (regs), groet die rugbyheld.
Wanneer die koskaste leeg was, het sy ouma voedselkleursel gebruik om mieliepap op te kikker. "Ons gaan van Maandag tot Vrydag deur die hele rainbow nation!" het hy met 'n glimlag gesê, met verwysing na hoe hulle die week met verskillende kleure pap oorleef het.
Sy boodskap aan die leerders was duidelik: Moenie opgee nie. Hy het gegroei van 'n seun in 'n agterhokkie tot 'n bekroonde en bekende rugbyspeler in Suid-Afrika.
Na sy toespraak het Willemse 'n rugby-kliniek vir die o. 19-span aangebied, waar hy vaardighede en mentorskap met die jong spelers gedeel het.
Willemse was in George vir die amptelike bekendstelling van die Ebrahim Patel-gemeenskapsbeker wat van 2 tot 6 April by Outeniquapark plaasvind. Sy teen-woordigheid, saam met dié van voormalige Boland Kavaliersspeler en nasionale afrigter Stanley Reubenheimer, het aansienlike statuur aan die geleentheid verleen. Die twee het ook 'n rugbykliniek by Hoërskool George aangebied.
Leevin Stalmeester, Geewin Ruiters, Ashwin Willemse en John Jantjies. Foto's: Kiara Saaiman
Luthando Ngenge saam met sy rugbyheld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’