Gallery
GEORGE NUUS - 'n Paar weldoeners wat uitreik na die inwoners van Bossiegif, Rosemoor, het gesorg vir netjiese, opgegradeerde fasiliteite vir 'n sopkombuis wat vir jare reeds tussen 40 en 50 kinders bedien.
Mita Matroos, die sopkombuis-'ma', het 'n skeepsvraghouer, afdak en beskutte braaiplek ontvang om haar in haar taak te ondersteun. Voorheen moes sy op 'n sinkplaat op 'n vuur in haar voortuin sop kook.
Dr. Lukas du Preez, 'n afgetrede advokaat, en Liane Venter van die welsynsorganisasie Harmony Spiritual and Emotional Healing, het onlangs begin saamwerk om verbetering in die gemeenskap te bring.
Dit was Du Preez se pleidooie in sy netwerk van mense wat 'n anonieme skenker beweeg het om die skeepsvraghouer te skenk, en Deon Fourie en sy span gemotiveer het om die braaiplek en afdak te bou.
FOTOGALERY: Weldoeners reik uit in Bossiegif
Matroos verwonder haar oor die ingryping wat die lewe vir haar bietjie makliker maak. "Ek sê net dankie vir die Here wat hierdie mense oor my pad laat kom het en dit eintlik deur die kinders vir wie ek sorg," sê sy.
Venter probeer nou om volgehoue hulp te verleen deur donateurs te soek wat maandeliks sal bydra tot die voorsiening van bestanddele.
Tans moet Matroos haar bestanddele rek sodat elke kind 'n koppie sop kan kry. "Ons wil graag piesangs, eiers en 'n vitamienpap tot die etes byvoeg. Die hulpverlening sal nodig wees vir ongeveer 'n jaar. Ons hoop om intussen 'n selfvoorsienende omgewing te skep waar die gemeenskap help om 'n groentetuin te begin en te onderhou. Hoenders kan dalk aangehou word om eiers te voorsien," sê Venter.
Persone wat wil help, kan Venter kontak by 076 240 2347 of venterliane@gmail.com. Die organisasie se Facebook-blad is Harmonyholisticwellness.
Rolspelers in die skoonmaakaksie op die perseel langs George Community Church, van links: Liane Venter (Harmony), Jessica Biegnaar, Jorina Kruger, Douw Bezuidenhout van Henque Waste, Magdalena Gevan (Henque Waste), Salmon de Koker (VF+ se ondervoorsitter), Zway Ntaka (gemeenskapsleier) en sy seun Jaydin, Pieter Viljoen (SA Weermagvereniging) en Zeneca Potts.
Skoonmaakaksie
Du Preez en Venter het ook saamgespan om die bal aan die rol te sit deur 'n skoon-maakaksie te organiseer op 'n perseel langs George Community Church in Bossiegif. Jorina Kruger, Harmony se Trash 4 Cash-projekkoördineerder, het saamgewerk met Muriel Hau-Yoon van die Tuinroete Vullisherwinningsforum, Henque Waste Management en George-munisipaliteit om die projek se sukses te verseker.
Trash 4 Cash is 'n projek wat voortduur. Dit moedig die gemeenskap aan om rommel op te tel in ruil vir R5 per vullissak.
Venter sê hul projekte is daarop gemik om gemeenskapsleiers by te staan in hul pogings om hul eie gemeenskappe te help.
"Ons volg 'n holistiese benadering waar daar nie net gekyk word na kos, klere en 'n skoner omgewing nie, maar ook die bemagtiging van mense op 'n emosionele, geestelike en sosiale vlak."
Dwelm- en drankmisbruik en blitskursus
Harmony se volgende projek is in die Rosemoorgemeenskapsaal op 1 en 8 Oktober wanneer Freddy Trout van People Against Substance Abuse (Pasa) met ouers oor dwelm- en drankmisbruik onder kinders gaan gesels. Du Preez gaan ook 'n blitskursus in arbeidswetgewing aanbied op 19 Oktober waarvan die fooie direk aan hul welsynsprojekte gaan.
George Community Church het hoofbrekens oor onwettige vullisstorting op die aangrensende perseel wat op Donderdag 8 September opgeruim is danksy die ingryping van Harmony Spiritual and Emotional Healing. Foto: Alida de Beer
Die skoongemaakte perseel van George Community Church af gesien.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'