Update
GEORGE NUUS - Twee jong tieners is in die afgelope tien dae tragies weggeruk uit hul families en die breër skoolgemeenskap. Die families van Cee-Jay Lottering (15) en Andy Buys (16) is steeds besig om die dood van die jong seuns te verwerk. Albei was leerders van Hoërskool George.
Cee-Jay (15)
Cee-Jay se pa, Christo Lottering, beskryf sy seun as 'n liefdevolle persoon. Cee-Jay was die afgelope tyd baie siek, vertel sy pa.
"Toe hy ses maande oud was, is hy met 'n niersiekte gediagnoseer. Hy moes elke ses maande vir toetse na die Rooikruis-kinderhospitaal gaan. En elke tweede maande na George-hospitaal."
Christo vertel Cee-Jay is in September in George-hospitaal opgeneem waar hy vir longontsteking behandel is. Hy het egter herstel en is ontslaan. Hy was twee weke daarna weer siek en is weer in die hospitaal opgeneem. Cee-Jay is toe met hartversaking gediagnoseer en het so verswak dat hy na die hoësorgeenheid oorgeplaas is.
Sy dokters het hom op 24 Oktober na die Rooikruis-kinderhospitaal oorgeplaas. Sy toestand het verbeter. Op 11 November het hy egter weer 'n terugslag gehad en het nie weer herstel nie. Hy is op 24 November oorlede.
Cee-Jay laat sy pa, ma Annemarie en boeties Chrishaan en Caleb agter. Cee-Jay se begrafnis is op 12 Desember by die Ou Apostoliese Kerk te Denneoord om 10:00.
Andy Buys (16)
Vir Elsie Buys, Andy se ma, was dit moeilik om met George Herald te gesels omdat sy dood nog so onwerklik en vars in haar geheue is. Sy sê, Andy en sy pa, Anthony, is Vrydagmiddag 27 November weg uit Touwsranten waar die familie woon. Haar man moes 'n sleepwaentjie in Johannesburg gaan haal en Andy het vreeslik uitgesien na die rit.
Volgens Anthony het 'n dier voor die voertuig ingehardloop en hy moes uitswaai. Blykbaar het die voertuig se wiel die gruis geraak en die motor het 'n paar keer gerol. Elsie sê die ongeluk het Saterdag in die vroeë oggendure buite Kroonstad plaasgevind. Pa en seun is na die naaste hospitaal geneem.
Anthony het sy rug beseer en is steeds besig om tuis te herstel, maar Andy se beserings was van so 'n aard dat dokters nie veel kon doen nie. Hy het by die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Andy het sokker gespeel en was ook betrokke by skerm en 'n skoonmaakprojek van Touwsranten en Hoekwil. "Ons familie is stukkend na ons die tyding ontvang het. Hy was 'n oulike kind met sy lekker uitbundige lag. Ons gaan hom sommer baie mis," sê Elsie.
Andy Buys is die afgelope naweek in 'n motorongeluk oorlede.
Ook die nasorgsentrum waar Andy in die middae was, het net goeie dinge van die jong seun te sê gehad.
Andy laat sy ouers, broer Leigh en drie susters Jamie, Toni en Deneé Buys, asook sy oupa Michael Smith, agter.
Teen druktyd was daar nog geen begrafnisreëlings beskikbaar nie.
Bedanking
Die Lottering-familie wil hiermee ook Cee-Jay se dokters bedank. "Ons wil Dr. Alt en sy span bedank asook die Rooikruis-kinderhospitaal vir die bystand en ondersteuning. Hulle het alles probeer om sy toestand te verbeter."
Die Buys en Lottering-families wil ook elke persoon bedank wat tyd gemaak het om 'n boodskap te stuur en betuig ook hul dank aan Hoërskool George vir hul ondersteuning.
Hier is Cee-Jay saam met sy familie, ma Annemarie, boeties Chrishaan (6) en Caleb (18 maande) en pa Christo Lottering.
Vorige artikel: Twee tragedies in een week
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'