TUINROETE NUUS - Die bal is aan die rol vir moontlike groter ekonomiese samewerking in die streek.
Dit volg nadat lede van die sakegemeenskap in die streek en die Garden Route-distriksmunisipaliteit Dinsdag in Knysna byeengekom het om 'n kwartaallikse Tuinroete-besigheidsadviesforum te stig.
Die forum sal dien om 'n inklusiewe besigheidsomgewing te bevorder. Die forum is die eerste van sy soort in die Wes-Kaap op distriksvlak. GRDM-burgemeester, Memory Booysen, sê hulle beplan ook om taakspanne te vorm om kritieke sektore soos toerisme, landbou en konstruksie te bevorder.
Adv. Gert van Niekerk, onderburgemeester van die distriksmunisipaliteit, het gister (Woensdag) by navraag gesê die distriksmunisipaliteit het 'n sambreel verantwoordelikheid wat die hele streek insluit.
"Ons gee erkenning dat elke dorp in die streek sy eie uitdagings het ten opsigte van ekonomiese groei. Ons uitgangspunt is dat ons al die sakekamers van die dorpe en die sakekerns in die informele gebiede byeen wil bring."
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi en ondervoorsitter van die George-sakekamer, het bevestig dat hy ook die geleentheid bygewoon het.
Volgens hom was daar algemene konsensus dat die verskillende belangegroepe (sakegemeenskappe en die plaaslike owerheid soos die distriks-munisipaliteit) met mekaar moet gesels.
Cilliers het benadruk hy verwelkom die gesprekke, maar baie sal nog moet plaasvind.
Daar sal 'n punt moet kom waar daar na die implementering gekyk word.
'n Besigheidstruktuur sal gevestig moet word wat dan verkennende gesprekke met die regeringstrukture sal hê.
Lees die Garden Route-distriksmunisipaliteit se volledige persverklaring by: http://www.gardenroute.gov.za/2022/03/09/garden-route-business-advisory-forum-established/
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'