Groentetuinkompetisies is onlangs in Touwsranten en Pacaltsdorp geloods nadat die beweging se heel eerste kompetisie in Blanco vroeër vanjaar 'n groot sukses was.
In Pacaltsdorp is 45 tuiniers nou al vir die kompetisie in hulle area ingeskryf. Die George-munisipaliteit in samewerking met die Kos en Fynbos-gemeenskapsinisiatief se tuiniers en inisieerders, het verlede week 15 tuiniers van Touwsranten na Blanco geneem sodat die tuiniers kon sien hoe die tuinbouprojek vorder.
Rose Lewis van die plaaslike ekonomiese ontwikkelingskantoor (PEO) by die George-munisipaliteit, het gesê hulle het 'n bussie gereël om die tuiniers na Blanco te vervoer om die tuine te besigtig.
Die Touwsranten-inwoners is tydens hulle toer deur Blanco verras met 'n ruim voorraad groentesaad en saailinge wat geskenk is deur die Suid-Kaap Wildlewevereniging en Genesis Saad.
Beoordeling van die tuine in Pacaltsdorp en Touwsranten sal einde November plaasvind en die prysuitdeling in Desember.
Die Tuinroete Botaniese Tuin-trust het ook onlangs besluit om hulle ondersteuning te bied deur groentesaailinge vir Kos en Fynbos te kweek.
Kos en Fynbos se doel is om voedselsekuriteit en 'n gesonder omgewing te verseker deur die kweek van nie-geneties gemodifiseerde groente.
Vir meer inligting, stuur 'n e-pos na chrisgodfrey3@gmail.com.
Touwsranten-tuiniers tydens hulle besoek aan Blanco verlede week. By hulle is twee dosente van die NMMU wat deel is van die Kos en Fynbos-beweging, Corli Coetsee en Ben Wigley. Agter regs is Christine Ridge-Schnaufer van die Wildlewevereniging. Eve Stoffels (tweede van regs) van Kos en Fynbos het die toer gelei wat ook meegemaak is deur Rose Lewis van die George-munisipaliteit se ekonomiese ontwikkelingsafdeling. Foto: Alida de Beer
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'