Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Beurtkrag veroorsaak sedert verlede week ongekende lang rye by Binnelandse Sake in George.
Verlede Donderdagoggend het 'n beurtkragsessie van 08:00 af daartoe gelei dat die deure eers ná 10:00 oopgemaak het.
Frustrasievlakke onder toustaners wat buite die kantoor moes wag, was hoog. Een kliënt wat die koerant gekontak het, wou weet waarom alternatiewe kragopwekking nie gebruik word nie.
Rudy Lewis sê hy was reeds om 07:30 voor die deur om 'n dokument af te haal. Teen 11:00 was hy steeds buite in 'n ry. "Die departement behoort alternatiewe kragopwekking te gebruik. Hulle lewer 'n noodsaaklike diens. 'n Mens kan mos nie drie ure of langer wag net om 'n dokument af te haal nie. Ons betaal hierdie mense se salarisse, maar dan kom jy hier voor 'n toe deur te staan. Dit sal hulle ook niks kos om 'n aparte ry vir die optel van dokumente te maak nie. Ten minste sal van die kliënte vinniger geholpe raak."
Dr Mosiuoa Ngaka, binnelandse sake se bedryfsbestuurder vir die Tuinroete-distrik, het by navraag gesê uit die aard van die departement se dienste is dit onvermydelik dat kliënte toustaan en beurtkrag vererger die situasie.
VIDEO - Toustaan by Binnelandse Sake weens beurtkrag:
Hy het bevestig dat die George-kantoor wel 'n kragopwekker het wat tydens beurtkrag outomaties inskop, maar dit het van verlede Woensdag af 'n meganiese probleem gehad. Dit is dadelik onder die aandag van die diensverskaffer gebring. "Die kragopwekker is tans nie funksioneel nie en die tegnici werk daaraan. Ons is van hulle afhanklik wat betref hulle skedule," het hy Dinsdag gesê.
Wat betref die bestuur van rye het die kantoor wel strategieë in plek. Daar is vier verskillende rye vir onder meer aansoeke vir ID-kaarte en paspoorte; die afhaal van dokumente soos ID-kaarte, paspoorte en huwelik-, dood- en geboortesertifikate; alle ander aansoeke soos tydelike ID's, heruitreiking van geboorte-, huwelik- en doodsertifikate; en veranderings en korrigering van dokumente.
Vertragings by die George-kantoor word ook dikwels veroorsaak deur stelselonderbrekings wat aangemeld en aangespreek word," het Ngkaka gesê.
Die tou was so lank dit het 'n U-draai gemaak! Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'