GEORGE NUUS - 'n Bruid wat bereid is om op te stap na Cradockpiek om daar die ja-woord te gee, se liefde moet wyd lê.
Clare Labuschagne het op Sondag 15 Desember - met haar trourok in plastiek toegedraai op 'n vriend se rug, en haar grimeerkunstenaar op tou - die tog afgelê na die hoogste piek in die Outeniquaberge om daar ewige trou te beloof aan haar geliefde, Jacques Mouton.
Dit was egter nie 'n straf nie. Inteendeel. Net soos haar bruidegom is Clare 'n geesdriftige stapper en veldhardloper van Garden Route Trail Running en dit was albei se droom om bo-op 'n berg te trou.
"Die hoogste piek in George was epies genoeg vir ons," het 'n gelukkige Clare Dinsdag aan die George Herald gesê.
Jacques sê dit was 'n ongelooflike evaring - buite in die natuur op Cradockpiek. "Veldhardloop en berge maak 'n groot deel uit van wie ons is en dit was presies wat ons vir ons droomtroue wou hê. Meeste van ons vriende is veldhardlopers, so dit was wonderlik dat hulle dit met ons kon deel."
Op die pieke van geluk. Foto: Zane Schmahl
Die paartjie se aanvanklike planne was om 'n helikopter in te span, maar verlede week se voorspellings het gewys die weer gaan nie saamspeel nie.
"Daar was nie 'n plan B nie en ons het besluit ons stap. Vriende het gehelp om alles te dra, so dit was 'n hele optog. Dit was 'n ongelooflike ervaring," sê Clare.
Hulle het hul voertuie by 'n punt bekend as Power Stream geparkeer en vandaar geklim.
Ongeveer 20 mense het die seremonie op Cradockpiek bygewoon. Die ander gaste was by Louvain waar die onthaal gehou is. Die plan was om die seremonie lewendig te beeldsend, maar vyf minute nadat dit 'n aanvang geneem het, het die sein verdwyn. Die kosbare oomblikke is egter op video vasgelê.
"Ek het nog nooit in my lewe so koud gekry nie. Die wind het verskriklik gewaai," sê Clare. 'n Paar pienk Nike Vomero's, wat die vorige aand uit Port Elizabeth aangekom het, het plek-plek onder haar trourok uitgeloer.
Zane Schmahl, 'n vriend, het die foto's geneem. Hy skryf agterna op Facebook, "Ten spyte van die goor weer, het Clare die berg met die grootste glimlag geklim. Die cowboys het hulle ding gedoen en gewig tussen mekaar verdeel om die trourok, pakke, en tou en seile vir 'n aantrekskuiling op te dra."
'n Goeie voorraad vonkelwyn, whiskey en Obies is saam die berg op.
Koot Steenkamp was die trourokdraer. Clare was beïndruk dat dit nie gekreukel het nie, want dit was in verskeie plastieksakke toegemaak vir ingeval dit reën.
Gavin Brown, 'n huweliksbeampte en ook lid van Garden Route Trail Running, het die paartjie in die huwelik bevestig. 'n Hele klompie van die 11 strooijonkers, waaronder hoofstrooijonker Willem Haarhoff, was daar om die seremonie eerstehands te beleef.
Een van Clare se twee strooimeisies, Melanie du Toit, het saam die berg uitgeklim terwyl die ander, Linke Stanley by die venue met finale voorbereidings gehelp het.
By Louvain aangekom, het die dapper grimeerkunstenaar, Leanè Labuschagne, Clare weer onder hande geneem om haar nog eens te tooi vir die res van die dag. Volgens Zane was die onthaal 'n viering van "epiese proporsies".
Getroud! Jacques en Clare het mekaar ongeveer vier en 'n half jaar gelede tydens 'n Red Stone-wedloop op Calitzdorp ontmoet. Foto's: Zane Schmahl
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'