GEORGE NUUS - Video's wat op geslotekringtelevisie buite die George-raadsaal opgeneem is, en op sosiale media versprei is, het onlangs 'n opskudding veroorsaak.
Nou wonder raadslede oor die wettigheid van die verkryging en verspreiding daarvan.
Die twee video's wys hoe die PBI-raadslid Virgill Gericke, en die DA-portefeuljeraadslid van beplanning en ontwikkeling, Raybin Figland, alleen die George-raadsaal verlede Donderdag binnegaan en sowat 'n driekwartier later verlaat.
Brendon Adams, die administrateur van die Facebook-groep LSS het Saterdagoggend 'n video van nege sekondes met die volgende inskrywing geplaas: "Hierdie video is besig om op social media te gons, dus glo 'n secret meeting tussen raadslede, die meeting was 45 minutes lank." Adams het gesê die "hoekoms" en waaroms" van die vergadering is onbekend. Die video's is ook op WhatsApp versprei.
Gericke en Figland voer aan dat daar niks omstrede aan hul vergadering was nie. Volgens beide het hulle vergader om oor Artikel 80- komiteesake te gesels, waaronder 'n vorige raadsbesluit om die Suid-Kaap Kollege te skuif, beskikbare grond vir tersiêre instansies en ander beplanningskwessies.
Beide het hul kommer uitgespreek oor die manier waarop die video's bekom is en wonder oor die regmatigheid van beide die verkryging en publikasie daarvan. Volgens Gericke het hy die saak by die speaker, Gerrit Pretorius, aangemeld en op 'n ondersoek en skorsing van die betrokke individue aangedring. Pretorius het gister gesê dat nie hy of sy sekretaresse enige geskrewe kommunikasie van Gericke ontvang het nie. "Raadslid Gericke het my twee keer gebel. Enige kommentaar deur my op hierdie stadium mag 'n ondersoek belemmer," het Pretorius gesê.
Volgens Figland het hy die video's van 'n raadslid ontvang, en kort daarna van Adams. Hy het glo die saak by Steven Erasmus, direkteur van beskermingsdienste aangemeld. "Wat my regtig bekommerd maak is dat amptenare hierdie inligting versprei het," het hy gesê.
Gericke oorweeg om 'n siviele eis teen Adams aanhangig te maak nadat Adams in 'n tweede plasing op LSS vir Gericke vra in wie se naam die PBI se bankrekening geregistreer is. Volgens Adams is daar mense wat hieroor wil weet.
"Dit is enigeen se demokratiese reg om 'n siviele eis te lê, maar ek het ook die reg om vrae te vra. As politieke party behoort die PBI aan die publiek verslag te lewer."
Oor die video het Adams gesê dat hy dit gepubliseer het, omdat hy wou "weet wat aangaan". Adams beweer dat Gericke enige vrae as 'n persoonlike aanval ervaar. Gericke het Adams vantevore by die onafhanklike verkiesingskommissie aangekla, en die saak verloor.
Die rookkamer
Gericke het gesê dinge raak gevaarlik as hulle so agtervolg word by die werkplek: "Ons het helder oordag gesels, terwyl dié wat in die rookkamer sit vir ['n senior munisipale amptenaar] bel om hom in te lig. Soveel stories het die ronde gedoen, hulle wil my laat sleg lyk."
Die 'stories' en spekulasie waarvan Gericke bewus is, sluit in dat Gericke in gesprek is met die DA oor 'n burgemeesterspos vir homself (of vir Figland), of dat hy namens die DA 'n mosie van wantroue in die burgemeester by vandag se raadsvergadering (30 Januarie) gaan indien.
"Jy moet baie onnosel wees as jy van die opposiebanke 'n mosie namens die DA indra," het Gericke gesê.
Op 'n vraag aan Figland of hy daarvan bewus is dat hy beskou word as 'n gunsteling vir die posisie as burgemeester, het hy die volgende geantwoord: "Ek berus my by die party se besluit, ek is nie groter as die party nie."
Brendon Adams: "Gericke ervaar enige vrae as 'n persoonlike aanval."
Virgill Gericke: "Jy moet baie onnosel wees as jy van die opposiebanke 'n mosie namens die DA indra." Foto: Michelle Pienaar
Volgens Raybin Figland (foto) het hy die video's van 'n raadslid ontvang, en kort daarna van Adams.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'