Gallery
GEORGE NUUS - Die belangrikheid vir die jeug om as kiesers te registreer en te stem is verlede Donderdag, 9 Junie, benadruk tydens 'n kort toneelopvoering by die George-burgersentrum.
Die geleentheid het onder die vaandel van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) plaasgevind en is bygewoon deur plaaslike studenteleiers, leerlinge en verteenwoordigers van jeugorganisasies.
Dit was deel van Jeugmaand.
Die toneelopvoering is gedoen deur Frontrow Studios wat die teks in samewerking met die OVK geskryf het. Die naam van die toneelstuk was Democracy on Stage en dit word nou ook in ander provinsies aangebied en opgevoer.
Tydens die geleentheid is studenteleiers en leerlinge, wat nog nie as kiesers geregistreer is nie en daarvoor kwalifiseer, aangemoedig om dit te doen.
Chris Balie van die OVK wat verantwoor-delik is vir kiesersopleiding in die Wes-Kaap, het gesê dis baie belangrik dat veral jong-mense moet stem sodat demokrasie behou en voortgebou kan word. Dit gaan nie oor vir watter politieke party iemand stem nie.
Jongmense moet ook weet dat hulle aanlyn as kiesers kan registreer en nie in rye hoef te staan nie. As hulle reeds geregistreer het en daar is inligting wat moet verander soos byvoorbeeld 'n adresverandering kan hulle dit ook aanlyn doen.
Die jongste projek is 'n verdere uitbouing daarvan. Die OVK se nasionale kantoor het reeds in samewerking met sy kantore in al die provinsies met nasionale projekte begin.
In April was daar die Democracy Campaign waar OVK-personeel skole besoek het. Tydens die geleentheid is kiesersopleiding en -registrasie gedoen. In die Wes-Kaap is die projekte tot einde September verleng.
In Mei was daar 'n projek waar kiesersopleiding by kolleges soos byvoorbeeld Suid-Kaap Kollege gedoen is. Dit hou aan tot einde September.
Volgens hom word met die nuutste projek gefokus op jongmense wat nie bereik is by skole en kolleges nie. Die projek word op so wyse hanteer dat dit nie net 'n pamflet of 'n praatjie is wat gelewer word nie. Die fokus is op visie en gehoor.
Met die toneelstuk word gehoop om veral kieserregistrasie onder jongmense te bevorder.
Wanneer mense by die opvoerings as kiesers registreer ontvang hulle binne drie minute 'n SMS of e-pos as bevestiging.
Dit was die tweede keer dat dit in die Wes-Kaap opgevoer is en die terugvoering wat hulle ontvang, is baie positief.
Frontrow Studios besig met die toneelopvoering by die George-burgersentrum. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'