GEORGE NUUS - Sy wou nét 'n middagslapie neem, toe 'n vreeslike gedruis haar op haar voete het. "Het jy dit gehoor?" het Mariëtta Janse van Rensburg, 'n inwoner van die Yorkston-woonstelblok, vir haar man, Christo, gevra.
Die geraas het soos 'n Boeing geklink wat net bo die geboue vlieg. Kort daarna was daar 'n ongelooflike geraas - amper soos 'n ontploffing.
Die Vibracrete-muur tussen die Yorkston-woonstelblok en die Neo Victoria-bouperseel het hul woning van die ramptoneel geskei.
Sy was besig om na buite te beweeg toe Paula, wat by hulle loseer, haar keer. "Nee, Tannie, bly eerder binne. Dit is dalk gevaarlik. Dalk val daar nog goed."
Die gebou by Victoriastraat 75, langs Yorkston-woonstelblok, het inmekaargesak. Dit was skuins na 14:00 op Maandag 6 Mei, en net stof waar jy kyk.
Tussen die puin kon sy mense hoor skreeu en om hulp hoor roep. Van die stemme het later stilgeraak. "Ek weet die een man wat ek gehoor het, het dit nie gemaak nie," het Mariëtta gesê. "Ek sal sy stem en geroep nooit vergeet nie."
Klankopname van gesprekke met inwoners van Yorkston-woonstelle
'n Ander persoon het haar vertel van 'n hand wat by die puin uitgesteek het, en oomblikke later het die hand verdwyn. Ingesluk deur bourommel en duisende ton sement.
'n Foto van die toneel op Maandag 6 Mei gesien vanuit Yorkston-woonstelle. Foto: Christo Janse van Rensburg
Die geraas van die reddingswerk, swaar-masjinerie en 'n lugtoeter se geblaas het vir dae aangehou.
"Aanvanklik het die geraas ons wakker gehou, maar later was dit die stilte tussen die geraas wat ons laat regop sit het," het Mariëtta gesê. "Dan weet ons, hulle soek iemand tussen die puin."
Vir die volgende 11 dae het vreemdelinge voor die woonstelblok kom uitkamp in hul voertuie, vir 'n nadere blik van die ramptoneel.
"Mense het letterlik voor en langs die ingang van die woonstelle gaan stop en op hulle voertuie se dak geklim. Hulle het heelnag daar gesit en kyk hoe die reddingswerkers te werk gaan," het Mariëtta gesê.
Die inwoners van beide Yorkston- en Millwood-woonstelle het kennisgewings van die polisie ontvang, waarin hulle gewaarsku word om nie met die media te gesels en onderhoude toe te staan nie. Dit was nou gedurende die reddingsoperasie.
Mense wat kerm
"Ons het goed gesien en gehoor wat my altyd sal bybly," het Mariëtta gesê. Sy en haar man het net die vorige dag, Sondag
5 Mei, verby die bouperseel gery en gepraat oor die feit dat nóg twee ekstra verdiepings op die aanvanklike drieverdieping gebou aangebou word.
"'Christo, daai gebou gaan val!' Het ek vir Christo gesê, min wetend wat gaan kom," het Mariëtta vertel.
"Daardie dag, na daardie ongelooflike slag, kon ek nie glo wat ek sien nie. Ek het net gesê: 'My God, my God ek glo dit nie.' Want ek kón dit nie glo nie. Elke dag sien ek die ouens werk in die gebou, en toe ek buite kom is daar niks. Daarna, toe 'n mens tot die besef kom dat daar niks is nie, toe begin jy die mense hoor kerm."
Christo het vertel dat die mense daar by hulle, tussen die stene gelê het, maar hy kon hulle nie sien nie. "Jy weet hulle is hier naby. Jy hoor hulle roep. Ons het begin stene optel, toe is ons deur die reddingswerkers gestop. Dit was te gevaarlik."
'n Foto wat op Maandag 6 Mei geneem is, kort na die gebou ineengestort het. Foto: Christo Janse van Rensburg
Vorige trauma
Christo is met hierdie gebeurtenis in Victoriastraat teruggeneem na 'n ramp in Sasolburg by die Sasol-aanleg waar hy in 1975 gewerk het. Hy beskryf dit as die grootste ontploffing in Sasol se geskiedenis. Die trauma van daardie belewenis, het weer na hom teruggekom.
"Ek het gewerk by seksie 800. Dit het vir my presies dieselfde geklink as in 1975 toe ek in daardie ontploffing was. Die klankgolf het ons woonstel [Maandag 6 Mei] geruk. Ek het net afgeklim van die bed, toe voel dit soos 'n aardbewing. My eerste gedagte was dit was 'n ligte vliegtuig wat in ons gaan vas vlieg. My hart het amper gaan staan. Toe die stof trek, toe is ek bly dat niks op ons geval het nie."
'n Foto van die ramptoneel op Dinsdag 21 Mei, vanaf die Yorkston-woonstelle. Foto: Michelle Pienaar
Só lyk die ander helfte van die ramptoneel op Dinsdag 21 Mei. Die foto is geneem vanaf die Yorkston-woonstelle. Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’