GEORGE NUUS - 'n Tentkerk in 'n woonbuurt in Pacaltsdorp waar daar vir die afgelope paar maande kerkdienste gehou word, gaan moontlik moet afslaan en gaan.
Volgens Debra Sauer, kommunikasie-beampte van die George-munisipaliteit, is 'n kennisgewing aan die geregistreerde eienaar van erf 52, waar die tent staan, uitgereik, maar dié is oorlede.
"George-munisipaliteit het vandag (17 April) verneem dat die eienaar (Isaac Jacobs) oorlede is; dus moet ons nou uitvind wie besig is om die boedel te beredder en die kennisgewing op hom/haar beteken."
Die kennisgewing lui dat klagtes ontvang is oor die tent en twee skeepsvraghouers wat sonder die nodige goedkeuring van die munisipaliteit opgerig is. Die kerk, Christ Dominion City, het die perseel reeds omhein. Die sperdatum vir verwydering van die strukture was 16 April.
'Nietige' koopkontrak
Intussen broei daar 'n dispuut oor 'n koopkontrak vir erf 52 tussen die leier van die kerk, apostel Joel Togba, en Chrissie en William van der Berg, 'n broer en suster wat oorkant die kerk woon. Volgens die kontrak, het die Van der Bergs die grond aan Togba verkoop.
Die Van der Bergs beweer hulle is familie van Jacobs en dat die afgestorwene hulle oorlede ouma se neef was. Hul ouma het glo op erf 52 gewoon ná Jacobs se afsterwe.
Die Van der Bergs het intussen by prokureur Dirk Goussard om hulp aangeklop nadat hulle 'n dreigbrief van Togba se prokureur ontvang het oor agterstallige munisipale gelde op die erf. Dit verhoed Togba om onder meer 'n kragaansluiting te kry.
Goussard sê egter die koopkontrak is nietig aangesien die Van der Bergs nie die geregistreerde eienaars van die eiendom is nie, en dit dus nie van die hand kan sit nie.
"Die eksekuteur van die boedel is die enigste een wat met die boedel kan handel," sê hy.
Voordat Togba sy tentkerk op erf 52 opgeslaan het, het hy ook 'n koopaanbod van R350 000 deur die Era-eiendomsagentskap op erfnommer 58 in Noordstraat geteken. Dit het deur die mat geval.
Volgens 'n ander Van der Berg-familielid, Edmond van der Berg (broerskind van Chrissie van der Berg), het Togba glo in November verlede jaar die tent op erf 52 begin opslaan, sonder die Van der Bergs se toestemming, nadat die ander koop deur die mat geval het.
"My tannie-hulle het hul ontevredenheid daaroor te kenne gegee, maar hy het net voortgegaan."
Volgens Van der Berg was dit eers later dat die apostel haar genader het in verband met die koop van die grond. Volgens hom het hy ingegryp toe hy hoor van die kontrak. "Ek wou keer dat my tannie-hulle in die moeilikheid beland. Buiten die feit dat hulle nie die reg het om die grond te verkoop nie, het die kontrak vele ander gebreke. Dit noem nie eens 'n koopsom nie."
Volgens Togba se prokureursbrief, het die apostel R6 000 aan die Van der Bergs oorbetaal asook 'n bedrag aan die munisipaliteit om elektriese toerusting te installeer.
Hy het voortgegaan om die eiendom skoon te maak en sy tent op te rig. Die Van der Bergs word daarin beveel om die agterstallige munisipale fooie te vereffen soos in die koopkontrak ooreengekom. Hulle word ook met 'n interdik gedreig indien hulle Togba "verder teister".
Die "teistering" volgens Van der Berg is hulle pogings om hom van die grond af te kry.
Volgens Goussard moet die Van der Bergs aan die Meester van die Hooggeregshof bewys lewer dat hulle bloedverwant is aan Jacobs voordat die boedel afgehandel en die kwessie rondom die grond uitgeklaar kan word. Togba wou nie kommentaar lewer nie en het die George Herald na sy prokureur verwys. Dié het gesê hulle is besig met die saak en wil nie nou kommentaar lewer nie.
Teen saktyd het die munisipaliteit nog nie bevestig of die kennisgewing wel die regte persoon bereik het nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'