GEORGE NEWS - Die beoogde tartanbaan by die Rosemoor-sportstadion sal op die vroegste eers in 2022 gereed wees. George Herald het reeds in Maart 2018 berig dat die weg gebaan is vir die bou van die baan.
Geld is toe bewillig van die nasionale regering (Division of Revenue Act) en die munisipaliteit sou ook 'n bydrae lewer. Sedertdien was daar verskeie kinkels in die kabel en verskonings is aangevoer vir die vertragings.
Athane Scholtz, woordvoerder van die George-munisipaliteit, het Maandag gesê die tender vir die bou van die baan is in Maart 2020 geëvalueer, maar kon nie verder gevoer word nie omdat geen van die tenders aan die minimum vereistes voldoen het nie.
Covid-19-inperkingsmaatreels was teen daardie tyd van toepassing, wat ook 'n impak op kontantvloei en begrotings gehad het. Die munisipaliteit het besluit om die toekomsplanne vir die baan vir toekomstige fases aan te pas voordat die tender weer uitgestuur word.
Daar word verwag dat inter-regeringsprosesse, met onder andere die Wes-Kaap departement kultuursake en sport, binnekort afgehandel sal word en dat die tenderproses in Junie 2021 sal begin.
Indien die tenderproses volgens plan verloop en tenderaars aan vereistes voldoen, behoort daar 'n aanstelling teen die einde van 2021 gemaak te word, het Schotlz gesê.
Indien 'n suksesvolle aanstelling teen einde 2021 gemaak is, behoort die kontrakteur in die eerste kwartaal van 2022 op die bouterrein te wees.
In die huidige tenderformaat maak dit voorsiening vir 'n agt-baan sintetiese atletiekbaan (sowat R16 miljoen) en fasiliteite vir al die velditems, asook 'n klein stoorkamer en ablusieblok.
Daar is nie tans fondse beskikbaar vir pawiljoene nie en die beplanning hiervoor sal deur alle rolspelers (munisipaliteit, provinsiale regering, atletiekfederasies en privaat sektor) gedryf moet word. Planne vir toekomstige fases van die projek sluit sitplek in om dalk vir skoleatletiek voorsiening te kan maak, en beligting.
Volgens haar glo die munisipaliteit steeds dat die fasiliteit 'n belangrike rol kan speel in die omwikkeling van die stad se atletiese talent.
Wilbur Harris, stadsraadslid van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, het gesê dis ietwat van 'n teleurstelling dat dit nog nie gerealiseer het nie.
Toe hy nog lid van die George-stadsraad was, het hy hard geveg om te verseker dat George so 'n baan kry.
"Die proses loop nou al byna drie jaar en verwagtinge is geskep. Mense in die gemeenskap vra gereeld vir my wat is aan die gang.
"Ons moet geduldig wees. Die Covid-19-pandemie het 'n rol gespeel. Hopelik sal die kontrakteur teen die einde van die jaar aangestel word."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'