GEORGE NUUS - Die voormalige eggenoot van die bekende etiketghoeroe, Emsie Schoeman, is Dinsdagoggend 29 Junie, in die Olivedale-kliniek in Johannesburg weens Covid-19 oorlede.
Nelson Borman van Randburg is op 1 April van Schoeman, ‘n voormalige inwoner van Wilderness, geskei na ‘n huwelik van vyf jaar. Dit was beide se derde huwelik.
Schoeman, wat destyds gereeld bydraes vir George Herald gelewer het, het van Wilderness na Randburg verhuis toe hulle getroud is. Sy bly steeds daar in 'n aftreeoord omdat dit nader aan haar seun is.
Borman was 'n briljante prokureur en het sy eie regsfirma gehad. Hy het ook al die regsaspekte van die destydse bevrore voedsel onderneming, Table Top Foods, met die groenteverwerkingsaanleg in George, behartig.
Schoeman het aan George Herald gesê sy is baie hartseer oor Borman se dood.
"Ek het Saterdag nog met hom gepraat en probeer bemoedig. Hy het die laaste paar maande baie agteruitgegaan en gewig verloor. Nelson was 'n briljante man en het baie hard gewerk. Hy het nog steeds gepraktiseer en het twee kantore gehad. Ons het mekaar meer as 60 jaar geken. Dit is so tragies. Hy laat ses briljante kinders agter."
Borman, wat vlot Duits gepraat het, het aan die SA-Duitse Sakekamer in Johannesburg behoort en dus ook talle Duitssprekende kliënte gehad.
Nelson Borman se voormalige kollega en goeie vriendin, Adelle van Schalkwyk, beskryf hom as 'n gerespekteerde regsgeleerde en ware gentleman.
Ware gentleman
'n Goeie vriendin van Borman en Schoeman, Adelle van Schalkwyk, het aan Ilse Schoonraad* gesê Borman was 'n gerekende trustkenner en ‘n gerespekteerde prokureur. "Hy was ‘n ware gentleman. Wanneer mens vir Nelson gevra het hoe dit gaan, sou hy altyd, altyd sê 'Waar daar probleme is is daar altyd werk vir my, en daar is altyd probleme'. Hy was 'n statige man met ‘n fyn humorsin."
Van Schalwyk het in die laat 80's en vroeë 90's vir Borman gewerk en ken vir Schoeman van die Van Riebeeck-klub waar albei lede is.
“Ons was ook in dieselfde kerk en ek en my vriend, wat ook n regsgeleerde is, het gereeld saam met hulle gaan eet. Nelson was 'n geëerde lid van die Bryanston Country Club waar hy graag kliënte onthaal het. Nelson laat 'n groot leemte in die gemeenskap."
Schoonraad, se pa, Gert, was die besturende direkteur van Table Top en goed bevriend met Borman.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'