Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Op en wakker inwoners van New Dawn Park het die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, verlede week in hul woonbuurt se hoofstraat verras om oor diensleweringsprobleme te gesels.
Die buurt se riemtelegram het New Dawn Parkers van 'n moontlike informele besoek van die minister verwittig en hulle het seker gemaak hulle gaan hom nie misloop nie. Volgens inligting was Bredell onderweg na iewers elders, maar het hy 'n blitsbesoek aan die woongebied by sy program ingewerk.
'n Groepie inwoners wat die afgelope twee weke gesorg het vir heelwat nuus na 'n betoging voor hul wyksraadslid se huis, het op "die vlakkie", soos die area bekend staan, bymekaargekom en vir Bredell gewag.
Volgens Theresa Fortuin, 'n Icosa-raadslid van Garden Route-distriksmunisipaliteit en 'n inwoner van die gebied, is hulle uiteindelik deur 'n mede-inwoner ingelig dat Bredell, wyksraadslid Cecil Noble en 'n groepie amptenare skuins oorkant New Dawn Park Primêr in die straat vergader. Die "boodskapper" het met sy bakkie verby die geselskap gery en hulle in die pad sien staan.
"Ons is dadelik soontoe om met die minister te praat," het Fortuin gesê. Aanvanklik was die groep effe suur omdat hulle nie 'n uitnodiging ontvang het om Bredell te ontmoet nie, maar sake het vinnig in 'n positiewe rigting beweeg.
Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell. Foto: Michelle Pienaar
"Hy was baie vriendelik en ontvanklik vir ons probleme. Hy het my tot 'n drukkie gegee en my naam geken," het Fortuin gesê.
"Hy wou weet wat is ons grootste probleme, en ons het hom vertel van die behuising en rioleringskwessies waarmee ons worstel."
Bredell het onderneem om hul griewelys aan te vra wat aan burgemeester Melvin Naik oorhandig is.
Hy het ook bevestig dat hy die kwessies verder wil opneem met nasionale minister en het beloof om na Kersfees aan die hele gemeenskap terugvoer te gee.
Kyk 'n video hieronder:
Noodplan 'reeds in werking'
Bredell het op navraag geantwoord dat hy bewus was van die New Dawn Park mense se ongelukkigheid en homself wou vergewis van wat die situasie "op die grond" is.
"Daar was geen formele vergadering gereël nie, die gemeenskap het egter gehoor ek is daar en daar het 'n spontane straatvergadering plaasgevind," het hy gesê.
"Die gemeenskap het hul probleme geopper. Ek het reeds van die kwelpunte met my kabinetskollega, minister (Bonginkozi) Madikizela, bespreek.
Ons sal die burgemeester ondersteun met sy planne en aksies rakende die situasie. Die burgemeester het aangedui 'n noodplan het reeds in werking getree.
"Die burgemeester sal ook weer in Januarie met die gemeenskap vergader. Daar is reeds terugvoering gegee aan leiers van die gemeenskap wat teenwoordig was."
Die groep New Dawn Parkers is voortdurend in gesprek met die George-munisipaliteit oor die diensleweringsprobleme wat hulle kwel.
Terugvoer van George-munisipaliteit oor die kwessie word verwag.
Theresa Fortuin (links) in gesprek met Anton Bredell (middel) in New Dawn Park se hoofstraat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'