GEORGE NUUS - Die toestand van die handrelings en trappe by die getypoel in Heroldsbaai het 'n inwoner van George, tydens 'n besoek twee weke gelede, erg ontstel.
Susan Nortjé is bekommerd dat dié gewilde strandplek nie veilig gaan wees vir vakansiegangers wat vanaf Vrydag, die eerste naweek van die Desembervakansie, hier gaan besoek aflê nie.
"Heroldsbaai lyk nog net so sleg na die storm wat al 'n paar maande gelede hier was," het sy gesê.
"Die vakansiegangers is op pad en dis gevaarlik. Al die paaltjies is af en 'n trap is verwyder en net so gelos.
"Gaan hulle dit regmaak voor die vakansiegangers gaan kom? Dis skandelik hoe dit hier lyk.
"Van die strepe op die parkeerarea kan jy nie eens meer sien nie."
Volgens die munisipale direkteur van gemeenskapsdienste, Walter Hendricks, is die skade by Heroldsbaai deur storms veroorsaak.
"Dit is reggemaak, maar is 'n tweede keer beskadig na nog slegte weer," het hy gesê.
"Nuwe hegtings word tans vir die getypoel vervaardig en sal opgesit word sodra dit reg is.
"Ons verwag dit binne die volgende week (vandeesweek).
Die bruggie by die getypoel is ook daarmee heen.
"Die munisipaliteit hoop om in die toekoms clearview-heining vir die hele area te voorsien, maar daar is nie geld daarvoor in die huidige begroting nie.
"Die lyne in die parkeerterrein sal volgende week (vandeesweek) geverf word."
Pasop vir hierdie trap, want daar is niks aan die ander kant nie ...
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'