GEORGE NUUS - Hoërskool George is verlede week deur ouers gestormloop op soek na plek in die skool. Kort daarna het gerugte op sosiale media verskyn dat die hoof hom in sy kantoor toegesluit het en niemand wou sien nie. 'n Paar mense het lelike kommentaar gelewer wat net verder olie op die reeds vlambare situasie was.
Die skoolhoof, Morton van Rooyen, het toe amptelik die gerugte aan die George Herald bevestig.
Hy het ook bewys dat hy toe reeds vir twee dae, van vroeg tot laat, ouers in sy kantoor gesien het om leerders te akkommodeer. "Ek het op een dag sowat 60 ouers gesien. Ons het sowat 600 aansoeke gekry, maar kan net 300 akkommodeer."
Van Rooyen sê op die einde het hy 350 nuwe gr. 8-leerders gekeur. Volgens hom was daar 'n paar probleme met die aansoeke aanlyn. Van die probleme was ou kontakbesonderhede van ouers of onvoldoende dokumentasie tydens die aansoekproses. Sommige ouers het ook nie op die SMS van die departement gereageer dat hul aansoek suksesvol was nie. Dus het die skool geen bevestiging gehad dat die ouer en kind die skool kies nie.
Millicent Merton, 'n woordvoerder van die WKOD, sê Hoërskool George kan slegs 'n beperkte aantal leerders akkommodeer. "Die skool is 'n kuns- en sport-fokusskool en aanvaar dus leerders van buite die gebied wat in hierdie rigtings wil spesialiseer."
Sy sê volgens die skool het baie ouers in die bedieningsarea versuim om in die voorgeskrewe tyd aansoek te doen. Baie ouers het ook nie die nodige dokumente betyds ingehandig nie.
Die skoolhoof het ouers op 15 Januarie vanaf 09:30 tot 16:20 gespreek, vertel sy, en 'n veiligheidswag het toegangsbeheer by die deur toegepas om te verseker dat alles ordelik verloop.
"Ons verstaan dat ouers teleurgesteld is omdat hul kinders nie aanvaar is nie. Amptenare in ons distrikskantoor doen alles moontlik om te verseker dat leerders so gou moontlik geplaas word. Ons doen 'n beroep op ouers vir hul samewerking en geduld."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'