GEORGE NUUS - Dr. Margie Munnings, 'n dokter van George wat al vir 40 jaar in palliatiewe versorging spesialiseer, sê die steun van agt Suid-Afrikaanse dokters vir bystanddood het groot protes onder palliatiewe dokters uitgelok.
"Nie een van die skrywers is palliatiewe dokters nie. Ons werk daagliks met die versorging van mense wat sterf," het sy aan George Herald gesê.
Die groep dokters het hul steun vir DignitySA se regsproses om bystanddood in Suid-Afrika gewettig te kry in die openbaar uitgespreek deur 'n artikel wat in Februarie in die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal gepubliseer is.
Munnings sê, "Hulle artikel skiet tekort in die sin dat dit nie verteenwoordigend is van al die uitgangspunte op mediese terrein nie. Daar is baie metodes om fisiese simptome te verlig, soos palliatiewe sedasie in kritiese gevalle.
"Ons verhaas of stel nie die dood uit nie, maar laat dit natuurlik gebeur. Baie familiegesprekke vind plaas waar almal oor hulle wense praat.
"Palliatiewe sorg gaan nie net oor die verligting van fisiese pyn en lyding nie, maar in 'n groot mate ook oor die pasiënt se psigologiese en geestelike welstand.
"Uit ervaring kan ek sê dat daar baie tyd spandeer word aan die verligting van pasiënte se geestelike welstand tot op 'n punt waar hulle 'n doel in dit alles sien en kan voel dat God met hulle is. Die hele persoon word behandel."
Sy sê wanneer 'n pasiënt die vermoë gegee word om sy of haar eie lewe te neem, kan dit lei tot konflik en verwyte in die familie.
"Daar word ongelukkig baie min opleiding in palliatiewe sorg gedoen en mense is nie altyd bewus daarvan dat daar hulp is nie."
Dr. Margie Cummings
Bybelse standpunt
'n Plaaslike Christelike leraar, ds. Peter Veysie, sê hy kan bystanddood om verskeie redes nie goedkeur nie.
"Die eerste is 'n baie eenvoudige Bybelse standpunt en dit is om te vra of ons die reg het om 'n lewe te neem of om bystand te verleen in die dood van 'n persoon, wat ek nie glo ons het nie.
"Ons het wel die geleentheid om 'n lewende testament te teken wat ons families sal toelaat om ons nie op mediese lewensondersteuningstelsels te hou wanneer daar nie meer 'n kans op oorlewing is nie.
"Om lewensondersteuning te verwyder is 'n liefdeskeuse wat wys dat jy omgee. As 'n dominee is ek daar vir mense wat voor die dood se deur staan en in hierdie taak is ek al wonderlik ondersteun deur dokters wat palliatiewe sorg en liefde bied in hierdie stadium van mense se lewens," sê Veysie.
Ds. Peter Veysie
'Lewe is heilig'
Dr. Majid Katme, 'n afgetrede psigiater en voormalige president van die Islamitiese Mediese Vereniging in die Verenigde Koninkryk, sê in die Islam word alle vorme van hulpverlening by selfmoord of genadedood verbied.
"Vir ons is lewe heilig. God het lewe begin en God alleen sal 'n menslike lewe beëindig.
"Ons glo God, ons Skepper, is die enigste Eienaar van elkeen se lewe en die einde van elkeen se lewe is deur God die Skepper bepaal en nie deur die pasiënt, die dokter, die regter/hof, of die parlement nie.
"Ons het vandag baie nuwe moderne mediese behandelings wat die meeste pyn sal verlig en wegneem."
Katme sê in baie gevalle is daar 'n skuldgevoel by die pasiënt wat voel dat hulle 'n las is, maar hier moet liefdevolle gesprek plaasvind om die persoon van die teenoorgestelde te verseker.
In gevalle is daar sub-kliniese depressie wat nie gediagnoseer word nie wat 'n pasiënt selfdood laat oorweeg.
"Dokters wat, in teenstelling met alle mediese etiek, betrokke is deur die pasiënt te help om sy/haar lewe te beëindig, verraai hul eie mediese Hippokratiese eed om lewe te beskerm en te red en geen skade te berokken nie."
Katme is ook sterk uitgesproke oor die Britse Mediese Raad (BMR) wat in 2021 'n neutrale standpunt ingeneem het oor bystanddood, veral gesien in die lig van die feit dat daar 3 miljoen Britse Moslems en 20 000 Moslemdokters in Brittanje is. Die BMR het besluit dat hulle nie pogings om bystanddood te wettig, sal steun of teenstaan nie.
Bystanddood is wettig in 'n verskeie lande wat insluit Australië, Switserland, sekere state in die VSA, Nieu-Seeland en Kanada.
• Die dokters wat hul steun vir DignitySA uitgespreek het, is prof JP van Niekerk (emeritus professor - UWK), dr Paul Cluver (voormalige voorsitter van US-raad), dr Edwin Hertzog (stigter en voormalige voorsitter van Mediclinic Internasionaal), prof Mariana Kruger (emeritus professor - US), prof Keymanthri Moodley (buitengewone professor - WGO Samewerkende Sentrum van Bio-etiek), prof Jonny Myers (emeritus professor - UWK), prof Dan Ncayiyana (emeritus professor - UWK) en dr Johan Snyman (voorsitter - SA Mediese Vereniging, Oos-Kaap).
Lees 'n vorige artikel: DignitySA verwelkom dokters se steun vir bystanddood
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’