GEORGE NUUS - Agt prominente Suid-Afrikaanse mediese dokters het hul steun toegesê aan DignitySA se regsaksie om genadedood of bystanddood gewettig te kry.
Hulle het dit gedoen deur 'n artikel te publiseer in Februarie se SA Mediese Joernaal. Dit was om en by in dieselfde tyd toe wyle Carol de Swardt, 'n Georgiet, in die nuus was oor haar reis na Switzerland om in 'n kliniek te sterf waar bystanddood wettig as 'n diens aangebied word.
Sy het haar lus om te lewe verloor omdat haar lewenskwaliteit vir haar ondraaglik geword het weens voortdurende pyn as gevolg van terminale kanker, en die verlies van haar regterbeen.
Wanneer 'n persoon se lewe so 'n punt bereik waar lyding te veel word en daar geen vooruitsig op verbetering meer is nie, voel die groep dokters hulle behoort pasiënte te kan bystaan om 'n "sagte en vredevolle" dood te sterf.
Bystanddood moet as 'n mediese "behandelingsopsie" beskikbaar wees, saam met ander opsies soos palliatiewe sedasie, terminale sedasie, en die ontrekking van lewensonderhoudende behandeling. Hulle meen deur bystanddood wetlik te verbied, pasiënte "in hul finale en ernstige nood verlaat" word.
Ook die redakteur van die SAMJ, Bridget Farham, steun bystanddood in haar redaksionele kommentaar: "Daar is tye wanneer terminale sedasie al is wat lyding sal verlig," skryf sy.
Bystanddood kan beteken die beëindiging van 'n persoon se eie lewe met middels wat deur iemand anders verskaf word (medies geassisteerde selfmoord), óf waar die middels verskaf en toegedien word deur iemand anders (dokter toegediende genadedood).
Volgens die dokters voldoen bystanddood, wat verantwoordelik beoefen word, aan al vier fundamentele beginsels van die mediese etiek in die behandeling van pasiënte, naamlik om geen skade aan te rig nie, om pasiënte se beste belang te bevorder, hul selfbeskikking te respekteer en hulle regverdig te behandel.
Bystanddood moet egter slegs geskied op die inisiatief en versoek van die pasiënt.
'Daar is tye wanneer terminale sedasie al is wat lyding sal verlig.' - SAMJ-redakteur Bridget Farham
Lyding en palliatiewe sorg
Hulle sê in sekere omstandighede van palliatiewe sorg vereis die verligting van pyn en lyding die toedien van 'n dodelike dosis van 'n middel met die "sekondêre" en "verwagte gevolg van die verhasing van dood".
"Sulke pynbestuur kan van bystanddood onderskei word slegs in terme van hoe 'n mens die daad beskryf en die intensie ter sprake - óf as eliminering van pyn op 'n manier wat ook dood verhaas (terminale pynbestuur), óf as 'n veroorsaking van dood om pyn te elimineer (assistering om dood te gaan)."
Die regsrisiko van professionele, mediese behandeling van sterwende pasiënte verklaar gedeeltelik waarom daar "onderbehandeling" van pyn en lyding is van sommige terminale siek of sterwende pasiënte.
Die dokters wys ook daarop dat die Moderne Hippokratiese Eed van die Wêreld Mediese Vereniging geen morele verbod teen bystanddood bevat nie.
"Net soos in die geval van die beëindiging van swangerskap, sal dokters vry wees om volgens hulle gewete op te tree, met geen verpligting om bystand te verleen in die sterfproses nie."
Wyle Carol de Swardt en haar seun, Donovan.
Moord
Die Suid-Afrikaanse reg beskou bystand-dood as moord, maar ons howe benader dit egter nie op dieselfde vlak as moord met kwade bedoelings nie.
Die dokters wys daarop dat waar mense in Suid-Afrika wel aan moord skuldig bevind is vir die uitvoering van bystanddood, is tronkstraf nie opgelê nie.
'Kritieke belang'
Prof. Willem Landman van DignitySA en uitvoerende hoof van The Ethics Institute, het by navraag gesê die openbare steun van die dokters in die SAMJ, is van kritieke belang vir die funderende verklaring wat die organisasie se regspan tans voorberei vir indiening by die Pretoriase hooggeregshof.
DignitySA het in Januarie 2023 'n pro bono regspan saamgestel om inligting en stawende bewyse oor 'n wye front, plaaslik en internasionaal, in te samel waardeur hulle tans sif om 'n funderende verklaring voor te berei.
Hy sê daar was nog nie 'n allesomvattende hofsaak wat die algemene verbod van bystanddood deur die algemene reg in die lig van die Grondwet uitgedaag het nie. Dit is DignitySA se doel.
"DignitySA gaan die hof versoek om eerstens bystanddood te dekriminaliseer, en tweedens om die Parlement opdrag te gee om dit binne 24 maande te wettig deur die nodige wetgewing daar te stel."
* Die dokters wat hul steun hieraan toegesê het, is prof. JP van Niekerk (emeritus professor - UWK), dr. Paul Cluver (voormalige voorsitter van US-raad), dr. Edwin Hertzog (stigter en voormalige voorsitter van Mediclinic Internasionaal), prof. Mariana Kruger (emeritus professor - US), prof. Keymanthri Moodley (buitengewone professor - WGO Samewerkende Sentrum van Bio-etiek), prof. Jonny Myers (emeritus professor - UWK), prof. Dan Ncayiyana (emeritus professor - UWK) en dr. Johan Snyman (voorsitter - SA Mediese Vereniging, Oos-Kaap).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’