Video
GEORGE NUUS - ’n Sterk gees van omgee en samewerking onder inwoners van Pacaltsdorp is Woensdag 6 Mei, uitgelig toe ’n groot boom ’n huis in Acaciaweg, te midde van gure weerstoestande, beskadig het.
Die huiseienaar, Rona Jantjies, het op haar bed gelê toe die boom omstreeks 10:00 ontwortel is en groot takke deur die dak geslaan en in haar slaapkamer beland het.
Swaar reën het deur die beskadigde dak die huis binnegestroom en erge waterskade binne die woning aangerig.
Jantjies deel die woning met nog vier mense, onder wie ’n baba en ’n volwassene wat reeds drie beroertes gehad het en nie vir haarself kan sorg nie.
Met die hulp van Charl Gardiner, wat ’n graafmasjien (TLB) beskikbaar gestel het, het lede van die Pacaltsdorp Men’s Group vinnig ingegryp.
Die span het teen ongeveer 13:30 daarin geslaag om die boom op te saag en te verwyder, waarna hulle begin het om op te ruim.
Die beskadigde dak is tydelik met swart bouplastiek (gunplast) toegemaak om verdere reënwater uit te hou.
Inwoners het ook warm sop en kos na die gesin geneem om hulle deur die aand te dra.
Die oop gedeelte in die dak nadat die takke verwyder is waar die boom deurgedring het. Foto: Kristy Kolberg
Die ontwortelde boom voor in die erf. Foto: Hendrik Saaiman
Lede van die Pacaltsdorp Men's Group voor die huis, van links: Lorenzo Bredenkamp, David Bredenkamp, Quinton Cloete, Gustav Jansen, Hendrik Saaiman, Daniel Jantjies en Charly Damon. Foto: Kristy Kolberg
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’