Volgens die DA het die waarnemende munisipale bestuurder, Gerhard Ras, en die speaker, Bazil Petrus, ‘outokraties’ opgetree en beskou hulle die stemmery as ongrondwetlik.
"Ek verwerp dit met absolute minagting," sê Ras op die aantygings.
Tydens die vergadering het Ras Petrus geadviseer dat die Ordereëls van 1988 ‘swyg op hierdie punt’. Petrus het sy eie diskresie gebruik en toe vereis dat daar by elke vraag gestem word.
"Al wat ek gedoen het, was om advies te gee," sê Ras, wat die ANC en die OD tot orde geroep en gevra het hulle moet konsekwent wees en alle vrae op dieselfde manier hanteer.
Volgens Ras was sy direkte woorde tydens die vergadering: ‘Antwoord die vrae, anders word die skyn verwek dat iets weggesteek word.’
"Ek stem saam, tradisioneel word daar nie gestem oor vrae nie, maar die gevoel van die speaker is dat hy die veilige roete wil volg, want hy weet nie wat die volgende strikvraag gaan wees nie," voeg hy by.
Volgens Ras het dit alles begin by die begrotingsvergadering waar die DA daarop aangedring het dat daar oor alle aangeleenthede gestem moet word.
Sy advies aan die speaker is om die nuwe ordereëls goed te keur sodra dit voor die raad dien.
Volgens raadslid Flip de Swart het die DA die saak verder geneem na Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike bestuur, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.
"Die speaker en die munisipale bestuurder probeer die DA boelie. Die hele ding is vooraf beplan," sê De Swardt, wat uit protes sy vraag oor die finansiële implikasies van die skorsings van ‘n aantal munisipale amptenare teruggetrek het, om so sy beswaar teen die hantering daarvan te notuleer.
Die DA sal nou saam met die res van die raad ‘n maand moet wag tot die volgende raadsvergadering om antwoorde op hul vrae te ontvang. Ras het skriftelike antwoorde belowe vir voorlegging by die volgende vergadering.
Artikel en foto's: Michelle Pienaar
.jpg)
Raadslid Iona Kritzinger, ‘n onafhanklike kandidaat, deel ‘n oomblik met raadslid Daniel Maritz.