GEORGE NUUS - Inwoners van Borcherds kan op Woensdag 23 Oktober vir hul nuwe wyksraadslid stem. Die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) het vandeesweek dié datum bekendgemaak.
Dit volg nadat die vorige wyksraadslid, Christo Alexander van die PA, bedank het. Hy is onmiddellik oor na die DA-party en is ook dié party se kandidaat vir die komende tussenverkiesing.
Venolea Fortuin het by navraag bevestig dat die DA-leierskap op federale bestuursvlak goedkeuring hiervoor verleen het. "Ons het geen twyfel dat hy die regte keuse is nie, en ons sien daarna uit om die DA-verandering vir die inwoners van wyk 20 te gee," het Fortuin gesê.
Die PA het intussen bevestig dat hulle wel aan die tussenverkiesing gaan deelneem. Hulle sal hul kandidaat binnekort bekendmaak.
Politieke partye het kans tot 30 September om hul kandidatelys by die OVK in te handig. Dit is nie op hierdie stadium bekend watter ander partye aan die tussenverkiesing gaan deelneem nie.
Diegene wat wil seker maak dat hulle wel kan stem vir die tussenverkiesing, kan hierdie naweek op Saterdag 7 September en Sondag 8 September by Heidedal Primêr en Youth for Christ Kidstop registreer.
Hierdie is ook die gulde geleentheid om huidige details te verifieer. Volgens die OVK is 4 155 kiesers vir Borcherds geregistreer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’