TUINROETE-NUUS - Hubri en Helene-mari Bruyn, ‘n jong getroude paartjie van Groot-Brakrivier, staan ‘n baie goeie kans om te wen in die TUIS Regruk met Flair Restourasiekompetisie wat nasionaal vir restoureerders aangebied word.
Die kompetisie wil lesers inspireer met bekostigbare mooimaakplanne vir hulle huise.
Hubri en Helene-marie het hul gereedskapskiste afgestof en bewys dat ‘n mens kan wondere verrig op ‘n klein begroting. Met hul skrale begroting van R3 000 het hulle ‘n ou kombuis omskep in moderne oopplan-leefruimte wat jou asem wegslaan.
Hubri het van kleins af huisplanne geteken, ná skool sy diploma in Argitekstekeninge en Restourasie gedoen en onmiddellik begin met ‘n baie suksesvolle opkomende restourasiebesigheid, Home Revivals, in Groot-Brak. Sy kliënte strek vandag wyd oor die Suid-Kaap.
Hy doen kontrakwerk, restourasie, verbeterings, aanbouings, verfwerk en enige verwante restourasiewerk.
Terwyl hulle op soek was na ‘n perseel vir Helene-marie se klein meubelvervaardigingsaak, Ruwach Interiors wat hoofsaaklik spieëls, fotorame en koffietafels vervaardig, het hulle dié plek net buite Groot-Brak raakgeloop waar hulle begin kap en breek het. Die motorhuis was groot genoeg vir ‘n werkswinkel en toe besluit hulle om die huis na hul smaak reg te ruk. Hul begroting was baie klein en hulle het soveel moontlik materiaal herwin en weer gebruik. Hulle het klaar ‘n voorraad melamien vir die beoogde meubelsaak gehad en die hout vir die vloere het hulle gratis gekry by ‘n saagmeule wat toegemaak het. Ou vloerplanke uit die sitkamer het blaaie vir die kassies (en fotorame) geword, en ‘n muur wat hulle tussen ander vertrekke uitgebreek het, is gebruik om ‘n gangmuur langs die eethoekie te bou.
Al die bypassende toestelle is ou goed wat hulle swart geverf het. Hulle het al die werk self en met behulp van vriende en familie gedoen - binne ses maande en deur net na ure te werk.
Eers in ‘n gevorderde stadium van die projek het hulle van die kompetisie gehoor en besluit om in te skryf op die laaste dag van die kompetisie. Die vrug op hul harde werk het gou getoon toe hulle ingelig is dat hulle ‘n finalis is met die laagste begroting in die kompetisie.
Dis soos Hubri sê: "Met geld kan jy ver kom, maar te veel geld kortwiek jou kreatiwiteit."
Die 10 semi-finaliste wen elkeen ‘n koopbewys ter waarde van R2 500, naaswenners kry elk R3 500 en die uiteindelike wenner, wat later vanjaar by die Regruk met Flair-gala aangewys word, stap met die groot prys van R25 000 weg asook met koopbewyse van Pennypinchers en Timber City.
Stem vir Hubri en Helene-mari
Sien Augustus se uitgawe van TUIS vir die laaste 10 finaliste en stem vir ons plaaslike paartjie voor die wenner aangekondig word na gelang van die hoeveelheid stemme wat hulle van die publiek en lesers ontvang.
Artikel: Itha Kieser