GEORGE NUUS - Collette Rossouw, 'n gr. 1-onderwyseres by George Voorbereidingskool, is genomineer vir Solidariteit se 2022 Onderwyser van die Jaar.
Die organiseerders is op soek na uitsonderlike onderwysers om erkenning aan hulle te gee deur middel van hierdie gesogte toekenning.
Volgens Solidariteit het nominasies ingestroom en die top-15 finaliste is aangewys. Onderwysers van kleuterskole, laerskole en hoërskole kon genomineer word. 'n Onderwyser van die Jaar word in elke kategorie aangewys.
Gaan stem vir Colette
Die wenner word aangewys deur 'n stemproses waar mense vir hul gunsteling op Solidariteit se webwerf kan gaan stem. Die skakel is: https://solidariteit.co.za/onderwyser-van-die-jaar-stem-2022/
'n Kort biografie van elke onderwyser is op die webwerf beskikbaar.
Die kwaliteite waarna gekyk word, is passie vir die onderwysberoep en 'n warm, toeganklike en entoesiastiese onderwyser wat nie skroom om die ekstra myl vir sy of haar leerders te loop nie, en iemand wat altyd gereed is om te leer, te dissiplineer, te luister en te troos.
Passie vir onderwys begin in motorhuis
Rossouw sê haar passie vir onderwys het in haar ouers se motorhuis begin.
"Toe ek 'n kind was, het my ma bedags kinders tuis opgepas. Ek het daarom ná matriek besluit om onderwys my loopbaan te maak. Ek het my onderwyskwalifikasie deur Unisa aangepak.
"Tydens my studie het ek besluit om dit wat ek leer prakties toe te pas, en dit is hoe Hekkie se Plekkie gestalte gekry het - in my ouers se motorhuis. Een van die kinders in my klas kon nie 'Colette' sê nie en het my 'Hekkie' genoem - vandaar die naam."
Ná ses jaar het 'n skool vir haar 'n pos aangebied waar die grondslag van haar onderwysbenadering vasgelê is.
"Ek dink min mense geniet hulle werk soos ek, want ek kan nie wag om soggens skool toe te gaan nie. Ek probeer om elke kind wat deur my hande gaan spesiaal te laat voel en hulle emosioneel en sosiaal sterk genoeg te maak om die aanslae van die lewe met gemak te hanteer.
"Ek glo ook dat kinders wat emosioneel en sosiaal sterk is, uiteindelik reg is vir formele leer en die eise van 'n volwasse lewe. Hoe bevoorreg is ek nie om my passie elke dag uit te leef nie!"
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'