Update
GEORGE NUUS - 'n Stapper wat verlede Vrydagoggend ernstige beserings tydens 'n bergklim-uitstappie opgedoen het, sterk tans aan in die intensiewesorgeenheid van Mediclinic George.
Tania Erasmus en nog drie medestappers het 'n roete aan die westekant van Cradockpiek gevolg. Met hul terugkeer het Erasmus geval en kopbeserings opgedoen. Volgens haar man, dr. Lourens Erasmus, is dit onbekend presies wat gebeur het, aangesien die ongeluk buite sig van haar medestappers plaasgevind het.
Die res van die stapgeselskap het die nooddienste omstreeks 10:00 ontbied en haar man geskakel.
Volgens Richard Botha, streeksbestuurder van Metro EMS, is Erasmus met 'n AMS-reddingshelikopter vervoer. Die res van die stapgeselskap is ook na die landingsplek gevlieg waar die ander nooddienste ('n Metro-reddingspan, George-brandweer, en Outeniqua Trail Search and Rescue) bymekaargekom het.
Erasmus is by Mediclinic George se ongevalle-eenheid gestabiliseer, waarna sy 'n neurochirurgiese prosedure ondergaan het. "Sy is in die intensiewesorgeenheid opgeneem waar sy tot Maandag op 'n ventilator was," het haar man bevestig. "Haar huidige toestand is stabiel met goeie daaglikse vordering."
Nooddienspersoneel verlede Vrydagoggend op die toneel.
Dr. Erasmus het gesê sy vrou is 'n stapper met baie ervaring en kennis van die plaaslike roetes. Hy het elkeen wat by haar versorging betrokke is, bedank.
"Die sorg wat sy tot op hede by Mediclinic George ontvang het is uitmuntend. Die ondersteuning wat ons kry van familie, vriende, kollegas, kennisse en die breër gemeenskap is fenomenaal," het hy gesê.
"Daar is soveel mense, waarvan ons baie nie eers ken nie, wat vir Tania voorbidding doen en ons ervaar werklik die bonatuurlike genesende krag van ons Hemelse Vader, deur die bloed van Sy seun Jesus Christus."
Dr. Erasmus het spesiale dank betuig aan die stappers wat haar vergesel het, die mediese nooddienste (AMS), Mediclinic George se ongevalle-eenheid, die intensiewesorgeenheid en personeel, drs Andrew Honiball (ongevalle), Derek Ackerman (neurochirurg) en Greg Palkowski (internis).
Tania Erasmus is 'n ervare stapper met baie kennis van plaaslike staproetes.
Vorige artikel: Vrou op Creadockpiek gered
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'