GEORGE NUUS - As jy 'n man met 'n rugsak op die lang pad tussen Kaapstad en Gqeberha (Port Elizabeth), sien stap, weet dis vir 'n goeie doel.
Ontmoet vir Jaco Liebenberg (39) wat stap om mense bewus te maak van die euwel van mensehandel. Hy is op die oomblik in die George-omgewing en stap vandag (Donderdag 11 November) van George na Wilderness.
Liebenberg het op 22 Oktober in Melkbosstrand, Kaapstad weggespring en sal waarskynlik die einde van November in Gqeberha wees. Hy sou dan sowat 800 km afgelê het.
Op die oomblik stap hy tussen 20 en 25 km per dag, met korter afstande party dae. Dis hoofsaaklik op die N2 en hy onderbreek ook by tye die stappery om te rus.
Dis deel van bewusmaking van Human Trafficking en hul blitslyn is 0800 222 777. Hy doen dit onder die vaandel van STOP (Stop trafficking of people) en die National Freedom Network.
Liebenberg het Dinsdag aan George Herald gesê hy doen dit omdat mense nie altyd bewus is van die groot werk wat die instansies doen nie. Hy wil hulle help en ondersteun in die werk wat hulle doen want hulle is net soos soortgelyke ander instansies, onder groot druk.
Volgens hom is mensehandel wêreldwyd en in Suid-Afrika 'n groot probleem. Na raming is 40 miljoen mense vasgevang in mensehandel. Minstens vyf uit 'n duisend word 'n slagoffer van 'n vorm van mensehandel. Met Covid-19 word dit 'n groter probleem. Net ongeveer 1% word gered, so daar is baie werk en hulp nodig om mensehandel te beveg.
Hy geniet die stap, maar dit is 'n uitdaging. Die rugsak van 19 kg raak by tye swaar en soms is dit ook baie warm. Mense is welkom om hom langs die pad te groet. As daar 'n tydjie vir rus is, sal hy selfs stop en gesels.
Terwyl hy stap, dink hy aan al die gebeure langs die pad en hoe goedgesind en ondersteunend mense was. Verder maak hy berekeninge oor hoe ver hy nog moet stap en wanneer hy by sy volgende ruspunt of eindpunt gaan aankom.
Mense kan hom op Facebook volg by, Walk to End Human trafficking and Abuse.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'