GEORGE NUUS - As die regering ooit iemand sou aanstel om standbeelde, simbole en monumente uit die apartheids- en koloniale era in George te verwyder sal dit omtrent 'n soektog afgee.
Sover vasgestel kan word is die enigste beeld van iemand wat waarskynlik gekoppel kan word aan die koloniale tydperk, dié van die Britse ontdekkingsreisiger en skilder, William John Burchell. Dit staan in die Tuinroete Botaniese Tuin.
Dit kom teen die agtergrond van 'n onlangse kabinetsbesluit om die proses goed te keur om alle standbeelde, simbole en monumente uit die apartheids- en koloniale era na temaparke te verskuif.
'n Borsbeeld van wyle PW Botha wat vir sommige 'n steen des aanstoots kon wees is na verneem word 'n tyd gelede aan sy familie teruggegee. Dit het vir lank tyd by PW Botha Kollege, wat deesdae bekend is as HTS Eden, gestaan.
Leon van Wyk, George se burgemeester en DA-leier in die stadsraad, het gesê hy is nie bewus van sulke beelde nie behalwe die borsbeeld van Burchell wat waarskynlik aan die koloniale tydperk gekoppel kan word.
Daar is onder meer voëls na hom hernoem.
Oor die kabinet se besluit wou Van Wyk weet: "As mens dan die geskiedenis wil uitwis moet mens dan alles uitwis wat iemand uitgevind het of ontdek het?" Hy het in die konteks verwys na die positiewe wetenskaplike werk wat Burchell gedoen het.
Hy het gesê as na die apartheid tydperk gekyk word moet verstaan word dat verkeerde dinge gedoen is. Nou, jare later met die kennis tot mense se beskikking, kan hulle dink dat dinge anders gedoen moes gewees het.
Nomawethu Jantjies-Gushman, hoofsweep van die ANC in die George-stadsraad het gesê sy is nie bewus van enige standbeeld in George uit die vermelde tydperke nie.
Straatname wat gekoppel is aan die tydperk bestaan nog, maar dis 'n ander aangeleentheid. Daar sal in die toekoms wel na gekyk moet word om te sien of dit nog relevant is. Flip de Swardt, 'n jare lange inwoner, het gesê hy dra geen kennis van standbeelde in George uit daardie tydperke nie. "George is nie eintlik 'n plek vir standbeelde nie."
Gerda Stols, bekende kultuurleier, het gesê sy is ook nie bewus van sulke standbeelde nie. Sy weet wel van twee geskiedkundige monumente wat die 1838 Groot Trek herdenk. Die een is by Herold en die by Ebb & Flow in die Wilderness.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'