GEORGE NUUS - Die SA Poskantoor verseker mense wat Sassa-toelaes ontvang dat die staking deur enkele Sassa-personeellede nie 'n invloed op die betaling van Sassa-toelaes het nie.
Die staking is op 8 Oktober deur Nehawu (die Nasionale Onderwys Gesondheid en Verwante Werkersvakbond) aangekondig weens ontevredenheid met die uitrol van die biometriese betaalstelsel. Die staking is egter voorlopig afgelas toe 'n vergadering op 10 Oktober met die minister van maatskaplike ontwikkeling, Susan Shabangu, belê is. Daarna het Sassa sy biometriese stelsel voorlopig op ys gesit sodat werknemers deegliker opleiding kan ontvang om met die stelsel te kan werk.
Die poskantoor het gesê diegene wat Sassa-toelaes ontvang, moet op die tyd en datum wat aan hulle gegee is na die betaalpunte gaan om hul toelaes te ontvang. Poskantore landwyd betaal ook Sassa-toelaes uit en werk soos gewoonlik.
Die poskantoor se stelsel vir die betaling van toelaes werk onafhanklik van Sassa se interne stelsel. Wanneer die betalingslêers na die poskantoor oorgedra is, betaal poskantoorwerknemers die toelaes uit. Poskantoorwerkers word nie deur die staking geraak nie. Die poskantoor sê ook hy het reeds 86% van die 6,7 miljoen toelaes vir Oktober uitbetaal.
Dit is die toelaes vir begunstigdes wat die nuwe goue Sassa-kaart gebruik - en met die nuwe kaart is dit moontlik om hulle toelaes te gebruik sonder om enige transaksie- of bankkoste te betaal. Begunstigdes wat kies om hul toelaes te onttrek deur diensverskaffers wat nie deur die poskantoor gelys is nie, loop die risiko om aansienlike transaksiegeld te betaal.
Die nuwe kaart laat een gratis onttrekking per maand by 'n poskantoor toe en drie gratis onttrekkings by supermarkte.
Die poskantoor raai begunstigdes aan om net by 'n poskantoor of supermark hul toelae te onttrek. So kan hulle seker maak hulle gebruik hul toelae ten volle.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'