GEORGE NUUS - Dit is noodsaaklik dat die George-raad dadelik die burgemeester en munisipale bestuurder skors sodat enige moontlike inmenging in die Valke se ondersoek voorkom kan word. Hierdie opmerking van die voorsitter van die staande komitee vir plaaslike regering, Masizole Mnqasela, volg na 'n inligtingsessie Dinsdagmiddag deur lede van die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering. Die komitee is ingelig rakende die Valke se klopjag op George-munisipaliteit (23 April) en gepaardgaande ondersoek.
Minister van plaaslike regering, Anton Bredell, kon nie daardie vergadering bygewoon nie.
Hy het by navraag gesê, "die departement weet wat hulle kan sê en wat nie, om seker te maak die Valke se werk word nie in die wiele gery nie".
In die voorlegging aan die komitee is daar onder meer verwys na beweerde ongerymdhede en growwe afwykings van tender spesifikasies waarby twee maatskappye betrek word. Die ongerymdhede strek sover terug as 2014.
'n Fluitjieblaser het glo die inligting onder die aandag van die departement van plaaslike regering en die minister gebring, waarna aanvanklike bewyse aan die Valke oorhandig is.
Die Valke het 'n lasbrief vir 'n deursoeking en beslaglegging bekom en die wonings van die burgemeester Melvin Naik, die munisipale bestuurder Trevor Botha en sekere diensverskaffers deursoek.
Mnqasela het gesê hy is baie tevrede met die voorlegging. Hy het Bredell en die departement van plaaslike regering geprys dat hulle die inligting aan die Valke verskaf het en verseker het dat die klopjag binne agt dae na die ontmoeting met die Valke plaasgevind het.
Die departement het verder onthul dat nog 3 munisipaliteite, Kannaland, Beaufort-Wes en Oudtshoorn ook ondersoek word vir bedrog, korrupsie, onreëlmatighede, wangedrag en die onreëlmatige aanstelling van sekere personeellede.
Korrupsie in munisipaliteite
Anton Bredell het tydens 'n onlangse besoek in Mosselbaai, aan 'n joernalis van die Mossel Bay Advertiser gesê dat bykans 90% van munisipale korrupsie hokgeslaan kan word deur die rapporteringslyne van interne ouditeure te verander. "Hulle moet onafhanklik wees. Ons moet hulle betaal uit die nasionale fiskus en hulle moet rapporteer aan die munisipale minister, die burgemeester, die MEC (Member of the Executive Council), die nasionale minister en die eksterne ouditkomitee. Hulle (interne ouditeure) sal die mandaat hê om enige onwettige transaksies onmiddellik te stop wanneer hulle dit agterkom."
Lees vorige artikels:
- Mayor suspended for 60 days from DA activities
- DA debates Naik's suspension
- George Municipality investigation
- DA asked for Hawks raid of George Municipality
- Update: Hawks raid George Municipality
- Klopjag by George-munisipaliteit
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'