GEORGE NUUS - ‘n Sprokies-matriekafskeid is elke meisie se droom - en dis een van die grootste gebeurtenisse op hulle sosiale kalender. Met die aanloop tot dié geleentheid dagdroom hulle oor hoe hul rokke gaan lyk, die styl van hul hare, en hoe hoog hul hakskoene gaan wees.
Maar vir Luzaan Plaatjies van Conville was die dag amper nie moontlik nie.
“Nes enige ander meisie het ek nog altyd daarvan gedroom om eendag my matriekafskeid by te woon. Dis ‘n droom wat ek nie maklik kon vergeet nie. Ek wou dit nie vergeet nie,” vertel sy.
Maar weens finansies was dit moeilik vir Luzaan en haar familie om ‘n plan te bewimpel om haar matriekafskeid moontlik te maak.
“Ons het nie geweet hoe ons hierdie dag gaan moontlik maak nie, want alles is duur en ons het nie die nodige finansies gehad nie. En as jongmeisie wil jy nie afskeep by jou maats nie. Jy wil ook mooi lyk en spesiaal voel, want dis immers ‘n aand om te onthou vir die res van jou lewe. Maar ek’t bly glo dat daar tog ‘n uitweg gaan wees” vertel sy.
Reg vir die aand!
En Luzaan se hoop het haar nie beskaam nie! Die stigter van die Sunshine Girls-groep, Marelize Andrews, wat ook ‘n familievriend van die Plaatjies is, het van Luzaan se situasie te hore gekom en besluit om in te gryp en te help.
“Ek wou hê Luzaan moet haar matriekafskeid bywoon en ek wou hê dit moet spesiaal wees. Daarom het ek na my groep toe gegaan en almal om hulp gevra - klein of groot - om Luzaan se dag spesiaal te maak,” vertel Marelize in ‘n terugblik.
Kort voor lank het die Sunshine Girls ingegryp en elkeen het ‘n bydrae gelewer om Luzaan se dag spesiaal te maak.
“Baie van ons is nie in sterk finansiële posisies nie, maar ons was ook eens op ‘n tyd daar waar Luzaan was, en dis deur ander mense se hulp wat ons is waar ons vandag is - daarom het ons gevoel ons móét Luzaan help,” vertel die groep.
Die onbaatsugtige daad van die Sunshine Girls-groep het nie net Luzaan se hartsnare geroer nie, maar dit was ook ‘n riem onder haar ma en ouma se hart wat graag wou hê hul dogter moes hierdie besonderse dag beleef. In ‘n Facebook-plasing het Luzaan se ma, Evelyn, gesê:
“Ons is baie dankbaar vir die Sunshine Girls, want was dit nie vir hulle nie sou my dogter se dag nie so spesiaal gewees het nie.”
Die stigter van die Sunshine Girls-groep, Marelize Andrews (regs), en haar span, saam met Luzaan. Foto's: Ferdie Geduld
En in haar rooi rok en silwer hakskoene het Luzaan Donderdagaand beslis haar beste voetjie voorgesit met Hoërskool George se matriekafskeid. “Ek’t soos ‘n prinses uit ‘n sprokiesverhaal gevoel. Ek sal daardie aand nooit vergeet nie. It was a dream come true,” vertel Luzaan.
Marelize beklemtoon hierdie was maar net een van die maniere hoe die Sunshine Girls terugploeg in die gemeenskap, veral omdat hulle bekend is met die tipe struikelblokke en uitdagings waarmee mense daarbuite sukkel.
Sy sluit af: “Ons kon iemand se dag baie spesiaal maak met die min wat ons het, want jy het nie baie nodig om iemand anders te help nie. Een van die boublokke van die Sunshine Girls is om lief te wees én om te gee vir jou naaste. Dis immers wat die Here van ons verlang!”
Prentjiemooi
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’