Gallery
GEORGE NUUS - Sewe geesdriftige spellers van die Eden distrik het Saterdag 9 September by die Universiteit van Stellenbosch (US), tydens die Woorde Open Wêrelde (WOW)-spelfees se provinsiale ronde as nasionale finaliste gekwalifiseer.
Franklin Lamini, WOW-distrikskoördineerder, sê die leerders het goed voorberei vir die geleentheid. "Die naweek was stresvol en vol trane, maar die leerders het dit baie geniet."
In die grondslagfase het drie leerders van Panorama Primêr pryse gewen. Megan Wakefield, (gr. 1) het vierde plek behaal en 'n boekprys ontvang.
Catroina September (gr. 3) het derde plek behaal en 'n bronsmedalje verower. Haizell Jacobs (gr. 4), het tweede plek behaal en 'n silver medalje in haar sak gesteek.
In die intermediêre en senior fase kategorie het Stephanie-Lee Sias, 'n gr. 6-leerder van Murraysburg Primêr, eerste plek behaal en 'n goue medalje vir haar skool verwerf.
In die kategorie vir hoërskole het Clamecia Simmers, 'n graad-9 leerder van Knysna Sekondêr, eerste plek behaal en 'n goue medalje verwerf. Marilie Putter, 'n gr. 9-leerder van Outeniqua Hoërskool, het tweede plek behaal en 'n silwer medalje in die sak gesteek. Johanna Hartnick, 'n gr. 8-leerder van Albertinia Hoërskool, het derde plek behaal en 'n bronsmedalje verower.
Die WOW-spelfees word deur die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) en Veilige Skole in samewerking met die Universiteit van Stellenbosch (US) aangebied.
Die nasionale finaliste gaan op Saterdag 21 Oktober by US aan die nasionale kompetisie deelneem.
ARTIKEL EN FOTO'S: BRÜMILDA SWARTBOOI, GEORGE HERALD INTERNIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'