GEORGE NUUS - Die 133 geregistreerde sopkombuise in George het die uitkoms geword vir verskeie gemeenskappe waar mense tans geen inkomste het nie.
Hierdie sopkombuise bedien nou daagliks baie meer mense as onder normale omstandighede. Die groot vraag na kos het egter ook 'n tekort aan voorraad veroorsaak en gemeenskappe het hul eie inisiatief geneem om donasies te kry, maar dis nie genoeg nie.
Johanna Pretorius in Proteapark het die afgelope naweek haar kombuis oopgemaak sodat lede van die gemeenskap daar kon kook vir gesinne wat nog geen donasies ontvang het nie.
Sy sê haar hart gaan uit na daardie gesinne in die plakkerskamp waar dit regtig swaar gaan.
Een van die nuwe sopkombuise by die NG Kerk in George-Suid, het die naweek sy deure oopgemaak en mense begin bedien.
Sean Snyman, wat hier betrokke is, sê die kombuis is vir families in die middedorp wat oorgesien is en ook swaar kry. "Ons werk tans met donasies, maar sal enige verdere donasies waardeer." Hy sê dit kan by die kerk afgelaai word tussen 10:00 en 13:00 en mense hoef nie uit te klim nie, iemand sal dit by hulle kry.
Groente geskenk aan 'n nuwe sopkombuis in Pacaltsdorp.
Trevor Botha, die George-munisipale bestuurder, sê hulle is geseën dat hulle die diens van sopkombuise kan gebruik in die grendeltyd. "Dit is mense wat toegewyd is en reeds vir jare ander uit hul huise kosgee." Hy sê die munisipale sopkombuise het nou van een maaltyd 'n dag, na drie maaltye vir sewe dae 'n week vir soveel mense as moontlik uitgebrei.
Botha sê aanvanklik was die sopkombuise gesluit vir die veiligheid van die eienaars en hul families, maar daar was ander wat bereid was om in te val waar nodig.
Donasies aan 'n kosprojek in Conville.
Verwante artikel: Sopkombuis vir middedorp in werking
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'