Mnr. Willem Lubbe van Topgro, ‘n besigheid op die plein, het sy kommer hieroor uitgespreek en gesê besighede ly onder die gedrag van die haweloses wat hulle as "kamtige" motorwagte voordoen.
Hy sê hulle pla die motoriste en vroue voel onveilig om besigheid op die plein te kom doen. Boonop ontsier dit die dorp en wek dit 'n baie slegte indruk by besoekers.
Die kitsbank van Eerste Nasionale Bank wat ook op die plein geleë is, word vir slaapplek gebruik en is bemors met vullis. Die bome rondom die kitsbank word as wasgoedlyne gebruik waar die haweloses hulle klere ophang.
"Daar is geen toiletfasiliteite nie en hulle staan oral en urineer en ander dinge doen. Van hulle het al seks gehad net daar waar hulle lê, veral oor naweke," sê Lubbe.
Afstootlike reuke
Die kliënte van een van die restaurant kla gereeld oor die verskriklike reuk van urine wanneer hulle buite op die stoep sit.
Lubbe sê dat almal uitsien na die koms van die 2010-sokkertoernooi en daar gaan baie besoekers na die dorp kom, maar dat hierdie gedrag die dorp se beeld groot skade gaan berokken.
Mnr. Daniel Beeka, die direkteur van gemeenskapsveiligheid, sê hulle is bewus van die situasie van individue wat hulself aanstel as motorwagte en saans skuiling soek voor besighede in die middedorp.
Volgens Beeka werk hulle nou saam met die polisie wanneer hulle bewus raak van sulke situasies en polisieer hulle die gebiede om aktiwiteite dop te hou.
Hy sê sy departement het onlangs met sowat 50 motorwagte vergader met die oog daarop dat individue ‘n gedragskode onderskryf en hou by eenvormige drag.
"Almal was ten gunste van die voorstel en kode. Ons sal nou na al die wetlike aspekte ondersoek voor ons weer vergader," sê hy. Intussen is die departement reeds in ‘n gevorderde stadium om munisipale verordenings aan te neem wat die aktiwiteite van motorwagte in George sal reguleer.
Artikel en foto's: Lizette da Silva
.jpg)
‘n Hawelose lê en slaap op sy "bed" langs die kitsbank op Van der Stel-plein.