TUINROETE | KAROO NUUS - Met die ekonomie wat steeds bly knyp en begrotings wat maar net nie wil klop nie, is daar tog maniere om die las te verlig.
Die koste van elektrisiteit is vir baie inwoners 'n groot kopseer, maar 'n paar veranderinge tuis sal nie net die vraag na elektrisiteit verminder nie, maar ook jou rekening beduidend verlaag.
Wenke om elektrisiteit en geld te bespaar
• Stel die termostaat op jou geyser laer op 60 °C en bedek dit met 'n geyserkombers en isoleer die waterpype. Die geyser is vir tot 39% van maandelikse elektrisiteitsrekeninge verantwoordelik.
• Oorweeg dit om jou ou geyser deur 'n energiedoeltreffende alternatief te vervang, soos sonkrag.
• As jy opwas, maak die wasbak vol warm seepwater in plaas daarvan om die warm water te laat loop terwyl jy items een vir een was.
• Installeer 'n tydreëlaar wat die geyser aan- en afskakel op tye wat jy spesifiseer, wat sal verhoed dat water verhit word wanneer dit nie nodig is nie. Dit is nie waar dat die termostaat beskadig word as die geyser aan- en afgesit word nie. Dit gebruik ook nie meer elektrisiteit as dit aan- en afgesit word nie.
• Bespaar tot 16% op jou rekening deur jou huis deeglik te laat isoleer.
• 'n Mikrogolfoond is goedkoper om mee te werk as 'n stoof.
• Dit is goedkoper en energiedoeltreffend om 'n elektriese kombers op jou bed te gebruik, in plaas daarvan om die kamer met 'n verwarmer warm te maak.
• Was wasgoed net as jy 'n vol lading het.
• Skakel jou rekenaar, televisie, dekodeerders en radios af en trek proppe uit as jy dit nie gaan gebruik nie.
• Vervang jou ou gloeilampe deur LED-ekwivalente. Hulle gebruik 90% minder elektrisiteit.
• Moenie jou yskas kouer stel as wat nodig is nie. Stel dit tussen 2 °C en 5 °C en jou vrieskas tussen -20 °C en -22 °C. 'n Voller yskas verbruik minder krag, omdat daar nie ruimte vir warm lug is nie.
• Vervang ouerwordende toestelle na 10-15 jaar met nuwes. As hulle deur moderne energiedoeltreffendes vervang word, kan tot 60% energie bespaar word.
• Vervang jou elektriese stoof met 'n gasstoof.
• Verminder die aantal ure wat die swembadpomp aan is na vier tot ses ure 'n dag.
• Bedek jou swembad. Sodoende sal sand en blare nie daarin val nie en gevolglik sal die pomp minder gebruik hoef te word.
• Probeer om die getal elektriese toestelle wat die gesin tegelyk gebruik, tot die minimum te beperk. Sien ook toe dat die kinders dit doen.
• Dit is meer ekonomies om een keer per dag te kook en om die kos net later op te warm wanneer jy weer eet.
• Moenie die ketel te vol maak nie, maar vul dit slegs met die hoeveelheid water vir wat jy nodig het. Gebruik 'n fles om kookwater warm te hou en gebruik 'n reisbeker met deksel op om jou drankies warm te hou.
• In plaas daarvan om die wasgoed in 'n tuimeldroër te gooi, hang dit buite op. Sonkrag is gratis.
• As jou selfoon se laaier elke dag heeldag ingeprop is, gebruik dit steeds krag al is jou foon nie op laai nie. Trek dit uit die muurprop.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'