Update
GEORGE NUUS - Slotbetoë in die moordsaak teen Grant Robertson (35) is Vrydag 14 Januarie in die rondgaande hooggeregshof in George gelewer.
Robertson word daarvan aangekla dat hy sy meisie, Rencia Jafta (37) van Parkdene, op Vrydag 12 Julie 2019 aangerand, verkrag en vermoor het.
Volgens hom was Jafta se moord nie met opset nie en het hulle albei die aand baie gedrink en saam geslaap. Sy het later die aand van die bed afgeval terwyl hulle besig was met omgang. Hy het eers later besef dat sy dood is toe hy bloed op sy klere opmerk.
Hy het paniekbevange geraak, haar lyk met 'n duvet toegegooi en die huis verlaat om tik te gebruik. Haar liggaam is die daaropvolgende Sondag gevind.
Robertson staan tereg op nege aanklagte teen hom. Ses van dié aanklagte, waaronder aanranding, huishoudelike geweld en diefstal, spruit uit vorige voorvalle met betrekking tot sy vrou en nog 'n meisie waarmee hy romanties betrokke was. Hy word verder van die aanranding, moord en verkragting van Jafta aangekla.
LEES MEER: Moordverdagte val flou in hof
Robertson is op 14 Julie 2019 in hegtenis geneem ná Jafta se liggaam, toegedraai in die duvet, onder 'n bed in sy opslaanhuis gevind is. Sy het drie kopwonde en verskeie beserings aan haar onderlyf gehad en haar liggaam was reeds in 'n vroeë stadium van ontbinding. Haar ouers het haar die vorige dag as vermis aangemeld.
In haar slotbetoë het staatsadvokaat, Evadné Kortjé gevra dat Robertson skuldig bevind word op al die aanklagte teen hom behalwe een van huishoudelike geweld aangesien daar nie genoegsame bewyse teen hom is vir 'n skuldigbevinding nie.
Kortjé het gesê Robertson het vir twee dae lank geweet dat Jafta dood was en nie die polisie, of enigiemand anders, in kennis gestel nie. In stede daarvan het hy haar liggaam onder sy bed weggesteek en die volgende dag boodskappe vanaf haar foon aan familielede gestuur asof dit sy was.
In haar slotbetoë het Louise Luterek aan die hof gesê dat haar kliënt (Robertson), wel berou getoon het en dat Jafta se dood nie beplan was nie. Hy het nie bedoel om haar dood te maak nie. Hy het nie die polisie in kennis gestel nie, want hy was paniekbevange en het nie geweet hoe om die situasie te hanteer nie.
Die saak is vir uitspraak tot 17 en 18 Maart uitgestel.
Louise Luterek van Mosselbaai verteenwoordig Robertson, adv. Evadné Kortjé is vir die staat en die saak dien voor regter Deidré Kusevitsky.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'