GEORGE NUUS - New Dawn Park Primêr het sterk gereageer op 'n berig oor 'n 7-jarige dogter van die area wat blykbaar deur haar pa gemolesteer word. In die berig in George Herald van 26 April (Argelose ouers moet ook ondersoek word, bl.12) is daar geskryf van 'n skool in die area wat blykbaar nie alles in hul vermoë gedoen het om 'n kind uit 'n situasie te help nie - en New Dawn Park Primêr is die enigste primêre skool hier.
Die skoolhoof, Peter Fillies, en sy personeel voel al word die skool se naam nie genoem nie, word hulle wel geïmpliseer. Hy sê hulle het gevoel die skool se naam word deur die modder gesleep.
Fillies het in 'n onderhoud met George Herald gesê, New Dawn Park is een van die gemeenskappe in George met baie sosiale probleme, en die primêre skool hier is gewoonlik een van die eerste plekke waar dit opgetel of aangemeld word.
Fillies sê hulle probeer nie net om alles vir sulke kinders te doen nie, hulle gaan ook uit hul pad om sulke kinders na ure te help. Hy sê dit was ook die skool wat die voorval by die distrik-onderwysdepartement aangemeld het.
"Daar is prosedures hiervoor in plek en ons het alles in ons vermoë gedoen om dit reg en sensitief te hanteer. Die klasonderwyser het daarvan te hore gekom, sy het my ingelig, daar is dadelik 'n vorm ingevul om die voorval aan te meld en om 'n maatskaplike werker by die skool te kry."
Volgens Fillies moet mense nie net aanneem dat die maatskaplike werker wat deur die departement aangestel is, nie haar werk reg gedoen het nie. Volgens hom kan so iemand net tot op 'n sekere punt help, en dan word dit aan die departement maatskaplike dienste oorhandig.
Fillies verduidelik die skool maatskaplike werker het ingekom, die ouers is ingeroep asook die klasonderwyser en daar is onderhoude met al die betrokkenes gevoer. (Lees Carmen Muller, die voorsitter van die skoolbeheerliggaam se kommentaar aanlyn.)
Carmen Muller, die voorsitter van die skoolbeheerliggaam, sê eerstens is dit skokkend, omdat niemand graag wil hê hul kinders moet seergemaak word nie. Muller sê niemand weet werklik wat agter geslote deure by die huis gebeur nie - en daardie kind is slegs die skool se verantwoordelikheid gedurende skoolure.
"Wat by die huis na skool gebeur kan ons ongelukkig nie baie aandoen nie. Ons het wel van ons kant af alle stappe gevolg om die kind by die skool te help. Ongelukkig kon ons wat gebeur het, nie verhoed nie."
Zinnia Milietie, 'n gemeenskaplid van New Dawn Park, sê sy was die eerste persoon wat die geval by die skool aangemeld het.
Volgens Milietie is dit reeds sowat 'n jaar gelede aangemeld, na die kind dit aan haar erken het. "Ek was by die skool, die klasonderwys en die maatskaplike werker was albei daar, en die kind het die hele storie verdraai."
Milietie sê in die onderhoud met die maatskaplike werker het die kind gesê dat dit met die kind se ma gebeur, en nie met die kind self nie. Maar Milietie het steeds gevoel daar moes iets omtrent dit gedoen word, om die kind uit die situasie te kry. Volgens haar is daar niks verder gedoen nie, en dit is hoekom sy meen die skool het die kind gefaal.
Fillies is oor die voorval uitgevra, en was baie geskok en terselfdertyd ook onkant betrap deur die beweringe. Hy sê hy is en was nooit hiervan bewus, tot die huidige klagtes vorendag gekom het. "Ek sou daarvan geweet het, veral as 'n maatskaplike werker dit ondersoek het. As ek nie ingelig is nie, dan kan ek ongelukkig nie daarop kommentaar lewer nie."
Volgens Fillies is dit ook moeilik om Milietie se beweringe te staaf aangesien hulle nooit dieselfde maatskaplike werker kry nie, en onderwysers kom en gaan.
*Debbie Schäfer, die Wes-Kaapse minister van onderwys, sê kindermolestering, doelbewuste verwaarlosing en seksuele misdade teen kinders, is ernstige uitdagings wat tans bestaan in gemeenskappe en onderwys instansies, regoor die land. Schäfer sê so 'n taak is nie die alleen verantwoordelikheid van een mens, instansie of agentskap nie, maar die hele gemeenskap. Sy sê onderwysers het 'n spesiale rol om so 'n saak te hanteer, saam met dokters, ander mediese personeel en maatskaplike werkers.
Volgens Schäfer verwelkom sy ook die vermindering van trauma - deur seker te maak die slagoffer herhaal nie aanhoudend die gebeure van die voorval nie. "Dit is ook die rol van die klasonderwyser tot die dokter en maatskaplike werker om tekens van seksuele mishandeling aan te meld, hulle word deur die wet verplig.
Sy sê volgens die Abuse No More-dokument moet 'n kind wat 'n slagoffer is, nie weer uitgevra word nie. "Kry net die relevante inligting om die saak aan te meld."
Sy sê elke stap en wie vorentoe betrokke gaan wees, moet ook aan die slagoffer verduidelik word.
Schäfer sê as die voorval 'n ouer as die oortreder identifiseer, mag die ander ouer nie gekontak word voor 'n maatskaplike werker en of die polisie betrokke is nie.
"Dit word so gedoen om te verhoed dat die kind verder 'n slagoffer word en deur die ander ouer geïntimideer word." Volgens die minister kan daar selfs 'n beskermingsbevel gekry word vir die kind, en kan die kind na 'n plek van veiligheid geneem word. Sy sê die skool moet ook voortdurend emosionele ondersteuning aan die kind bied, en gereelde terugvoering bied aan die maatskaplike werker oor die kind se vordering.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'